Die historiese trappe van die Voortrekkermonument was Maandag die verhoog vir een van die grootste saamsinggeleenthede van sy soort in Suid-Afrika toe meer as 800 leerlinge en 80 onderwysers van Laerskool Constantiapark in Pretoria hul stemme verenig het in ’n indrukwekkende uitvoering van 51 FAK-liedjies.
Die geleentheid het die hoogtepunt gevorm van ’n jaar lange kultuurprojek waarin die skool se graad 1- tot 7-leerlinge hulle daarop toegespits het om 51 liedjies uit die Afrikaanse liedjieskat te leer. Teen laatmiddag het die Rooikatte die hele trapgedeelte voor die Voortrekkermonument gevul, terwyl hul onderwysers rondom hulle gestaan en trotse ouers die besondere vertoning vanaf die Markplein geniet het.
Die gesamentlike sang van soveel jong stemme teen die agtergrond van een van Suid-Afrika se bekendste erfenisbakens het ’n atmosfeer geskep wat die waarde van kultuuroordrag tussen generasies op treffende wyse beklemtoon het.
Laerskool Constantiapark se projek is ’n uitsonderlike prestasie omdat dit die enigste laerskool in die land is waar al die leerlinge van graad 1 tot 7 ’n repertorium van soveel FAK-liedjies ken en sing.
Die inisiatief is veral besonders omdat die skoolhoof, dr. Louis Dey, persoonlik week ná week betrokke was by die aanleer van die liedjies. Hierdie praktiese betrokkenheid het gehelp om die projek nie net as ’n musiekaktiwiteit nie, maar as ’n gemeenskaps- en kultuurprojek te vestig.
Die geleentheid vorm ook deel van ’n groter bewusmakingsveldtog rondom die ontwikkeling van die nuwe FAK-Sangbundel, wat in 2029 vrygestel word wanneer die FAK sy 100ste bestaansjaar vier. Die proses om die derde uitgawe van die FAK-Sangbundel saam te stel, het reeds goeie momentum opgebou. Nog nominasies en stemming vir liedjies vir die nuwe Sangbundel word binnekort op sosiale media van stapel gestuur.
Volgens dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, stuur Laerskool Constantiapark ’n belangrike boodskap uit oor die toekoms van Afrikaanse kultuur. “Wanneer honderde kinders saam FAK-liedjies sing, sien ons nie net ’n indrukwekkende vertoning nie – ons sien hoe die volgende geslag hul kultuurerfenis onbeskaamd omarm. Hierdie kinders bewys dat die FAK-liedjieskat steeds relevant, geliefd en lewendig is.”
Langner sê die geleentheid sluit op simboliese wyse aan by die werk wat tans rondom die nuwe FAK-Sangbundel gedoen word. “Die FAK-Sangbundel is reeds vir dekades en deur generasies ’n draer van ons musikale en kulturele geheue. Wat vandag hier gebeur, wys presies waarom die nuwe Sangbundel belangrik is: ons erfenis leef nie op papier alleen voort nie, maar in die stemme van die volgende geslag wat dit met trots soos ’n fakkel die toekoms in dra.”
Die Voortrekkermonument het as geskiedkundige agtergrond die simboliek van die dag versterk. Die Monument, wat reeds vir bykans agt dekades die tuiste van kultuur-, geskiedenis- en gemeenskapsgeleenthede is, het opnuut gedien as ontmoetingsplek waar ouers, onderwysers en leerlinge saam kon vier wat bereik kan word wanneer kultuur doelbewus gekoester word.
Die bekende volksliedjies het die ryk verskeidenheid van die Afrikaanse liedjieskat weerspieël. Die geleentheid het nie net herinneringe by ouers en grootouers wakker gemaak en hulle ewe geesdriftig laat saamsing nie, maar ook gewys hoe hierdie liedjies nuwe betekenis vir jonger geslagte kan hê.
Dr. Dey het met onblusbare energie die Rooikatte van Laerskool Constantiapark op die trappe in die sang gelei. “Ek het destyds besef jy kan nie ’n kind uit graad 7 stuur en hy haak by die tweede reël van Sarie Marais vas nie,” sê hy. “Ek het eers net ’n paar liedjies vir hulle geleer, maar dit het soos ’n veldbrand versprei. Ek het deur die FAK-Sangbundel geblaai en eindelik 51 gekies.
“Nadat ons die 51 liedjies vir die kinders geleer het, het ek eintlik klaar in my doel geslaag, maar toe besef ek as ons hierdie FAK-liedjies teen die historiese agtergrond van die Voortrekkermonument kan sing en boonop in Afrikaans, is dit soveel groter. Dit is ’n viering van Afrikaans en Afrikanerskap.”
Dey het sy opregte dankbaarheid teenoor die meer as 2 000 ouers en grootouers van die skool uitgespreek wat die geleentheid bygewoon het. “Dit is ’n baie groot voorreg om ons skoolgemeenskap hier te hê. Hulle is hier omdat hulle hier wil wees en dit is die voordeel van ’n skool wat moedertaalonderrig in Afrikaans aanbied, en die waardes, trots en dissipline wat daarmee saamgaan.”
Terwyl die son stadig oor die Jakarandastad gesak en die laaste note oor die Voortrekkermonument-terrein weergalm het, het die geleentheid ’n kragtige boodskap geëggo: Ons FAK-liedjieskat is nie blote herinneringe nie, maar deel van ’n lewende erfenis wat nuwe geslagte kan inspireer








