As ’n mens vroegoggend by die Voortrekkermonument se hekke inry, sal jy die swartwildebeeste met vyf splinternuwe kalfies gewaar wat in die groen veld wei, asook ’n Blesboklammetjie. Dit is ’n gesig om te sien – veral in die middel van ’n besige stad.

Die gebied om die monument is ’n natuurbewaringsgebied waar die trop swartwildebeeste en Blesbokke wei.

Ilomi Kruger, natuurbewaarder by die Voortrekkermonument, vertel dat die kalfies iewers tussen November en Desember gebore is. “’n Swatwildebeeskoei is gewoonlik agt tot agt en ’n half maande dragtig. Die kalfies word tipies rondom die eerste somerreën gebore,” vertel Kruger.

Dit is nie toevallig dat die Voortrekkermonument ook ’n tuiste vir swartwildebeeste is nie. Weerskante van die Vrou- en kinderbeeld, teen die granietmuur, is twee swartwildebeeste in basreliëf uitgebeeld. Die vier swartwildebeeste van graniet stel die Zoeloe-koning Dingaan se krygers voor. Dit simboliseer die gevare waarteen die vrou haar kinders tydens die Groot Trek moes beskerm, asook die gevare waarteen die Voortrekkers as groep op hul tog na die binneland van Suid-Afrika te staan gekom het.

Die simboliek van die swartwildebeeste as koning Dingaan se krygers is op mondelinge oorlewering gebaseer. Volgens oorlewering was daar die aand nadat koning Dingaan en Piet Retief ’n traktaat op 4 Februarie 1838 rakende grondoordrag onderteken het, ’n groot lawaai buite koning Dingaan se stat. Op Piet Retief se vraag aan koning Dingaan oor wat die lawaai was, het hy geantwoord: “Dit is my regiment van wildebeest.”

“Die Voortrekkermonument se terrein is ideaal vir swartwildebeeste. Hulle hou van oop, groot grasvelde en kom natuurlik in die Vrystaat en Oos-Kaap voor,” sê Kruger.

Kruger vertel verder dat swartwildebeeste eens op ’n tyd ’n bedreigde spesie was met net 600 oor in Suid-Afrika. Dié swartwildebeeste is op plase in die Vrystaat beskerm en is aangeteel tot hulle uit die gevaarsone kon beweeg. Vandag is die spesie volop regoor in Suid-Afrika.

Die Voortrekkermonument is ook ’n tuiste vir ander wild soos sebras, rooibokke, blesbokke, witkwasmuishonde, dassies en menigte voëlspesies. Sluit aan as ’n vriend van die Voortrekkermonument en help ons om ons kultuur- en natuurerfenis te bewaar: https://vtm.org.za/donasies/