Die Voortrekkermonument het die geleentheid gehad om op Vrydag 9 Februarie 155 skoolleerlinge van die Christian School Lesedi La Ditshaba, al die pad van Soshanguve af, se Vrydag te maak.

Die skool het hul gr.R-7-leerlinge gebring vir ’n kulturele uitstappie by die Voortrekkermonument. Die leerlinge se dag het begin waar hulle leer om brood te bak op die tradisionele wyse, waarna hulle gaan kyk het hoe die kanon geskiet word by Fort Schanskop. Hulle kry ook ’n begeleide toer deur die Voortrekkermonument en kon dan die varsgebakte brood, wat hulle help maak het, vir middagete met konfyt geniet. Die dag word afgesluit met ’n sweepklap-demonstrasie en plaaswerfpret.

“Ons is altyd opgewonde om laerskoolleerders hier te hê om ons passie met taal, kultuur en geskiedenis op ’n kreatiewe manier met hulle te deel. Wat is lekkerder as broodbak en dit vars uit die oond met botter en konfyt te geniet?” sê Esté Cilliers, skoleprojekbeampte by die Voortrekkermonument.

Die kinders het die broodbak en die kanonskoot-demonstrasie veral geniet. Die leerlinge moet weens regsredes anoniem bly, maar was tog bereid om oor hul ervaringe te gesels.

“Dit was vir my lekker om te leer hoe die Afrikaanse mense brood gemaak het en ek sien uit om dit nou-nou te eet.”

“Die kanonskoot was my gunsteling, maar dit was hard!”

Dit is vir die Voortrekkermonument altyd ’n voorreg om skoolleerlinge hier te ontvang en meer te leer oor die geskiedenis. Jou vriendskap kan ons help om ’n verskil te maak: https://vtm.org.za/donasies/.