Mediaverklaring

 

15 Junie 2022

 

 

Die Vrijheidsreis-uitstalling open sy deure!

 

Op 14 Junie 2022, 84 jaar na die hoeksteenlegging, 73 jaar na die inwyding en 65 jaar na die eerste museum in die kelderverdieping geopen is, word ’n nuwe vergrote museum geopen met ’n splinternuwe tema, Vrijheidsreis.

Wat deur die VTM-direksie beplan was om ’n drie-jaar-lange projek te wees, is afgehandel in drie maande en die museum is nou groter en beter as ooit tevore.

 “Vryheid is meer as ’n bestemming,” sê Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument. “In dié konteks is Vrijheidsreis meer as ’n museum. Dit is ’n standpunt en ’n bevestiging van ’n ideaal en reisverhaal wat oor eeue geslagte Afrikaners aan mekaar verbind.”

Hierdie uitstalling kan gesien word as ’n tog deur die geskiedenis, vanwaar die Groot Trek sy ontstaan gekry het, tot by die uiteindelike vryheid wat dit gebring het.

Noemenswaardige gebeure vanuit die Groot Trek word in dié uitstalling uitgebeeld, soos die veldslae by Vegkop en Bloedrivier.

Wat die uitstalling so spesiaal maak, is die samewerking wat die Voortrekkermonument vanaf sy personeel, maar nog meer van ander museums en ook verskeie kultuurgroepe ontvang het.

Vir die eerste keer in die monument se geskiedenis word jy op alle vlakke deur ’n reis geneem wat intrinsiek met mekaar verband hou en verbind is. As ’n voorbeeld kan jy in die Heldesaal Piet Retief se onderhandelingstafel en waterfles op die friese sien. Op die tapisserie in die Senotaafsaal word dieselfde voorwerpe uitgebeeld en nou vir die eerste keer in die geskiedenis kan jy die werklike voorwerpe op uitstalling in die nuwe museum sien.

Persoonlike items van leiers vanuit die Groot Trek soos Sarel Cilliers en Piet Retief word ook as deel van hierdie reis vir die eerste keer in die geskiedenis by die Voortrekkermonument uitgestal.

Hiervoor kan ons die Msundusi Museum in Pietermaritzburg te danke wees, wat per leenooreenkoms vanuit die Geloftekerk se museum ’n aantal besondere items aan die VTM verskaf het, waarvan Piet Retief se tafel en waterbottel deel is.

Die uitstalling word ook afgerond met twee besondere fokuspunte wat nie noodwendig hul belang direk uit die geskiedenis van die Groot Trek vind nie, maar wat steeds ongelooflik is om te besigtig.

Die WH Coetzer-saal en die Moerdijk-saal is elk ’n uitstalling van belangrike individue wat baie diep spore in die geskiedenis van die Voortrekkermonument getrap het.

Hierdie uitstalling word anders aangepak as ’n tipiese museum-uitstalling, waar die besoeker nie net visueel die reis meemaak nie, maar waar die tonele met behulp van klank ook die besoeker oudiovisueel stimuleer.

Dis nie ’n plek waar saggies gefluister word oor die geskiedenis nie, maar waar daar hard gesels word oor die gebeure van die verlede en die impak wat dit vandag steeds op ons vryheidsreis het.

Tydens die amptelike opening op Dinsdag (14 Junie) het die VTM asook die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) dit goed gedink om spesiale oorkondes te oorhandig aan ’n paar mense wat oor die afgelope jaar ’n groot bydrae gelewer het tot die voortbou en bewaring van Afrikanergeskiedenis.

Johan Vorster (sanger en liedjieskrywer), Jannes Erasmus (akteur en dramaturg) en Jacomien de Wet (musikant en komponis) het elk ’n oorkonde ontvang vir hul werk aan die onlangse Gelofte Musiekblyspel. Dr. Danie Langner en prof. Danie Goosen het namens die FAK dié toekennings oorhandig.

 Gerrit Pitout (skilder), Van Rooy van den Berg (direkteur van Afrison) en Chris Boshoff (loodglas-kunstenaar) het elk oorkondes ontvang vir hul hulp en bydrae tot die VTM en die nuwe Vrijheidsreis-uitstalling. Pitout het ses skilderye verskaf wat in die nuwe uitstalling pryk. Boshoff het die nuwe Gelofte-loodglaspaneel in die VTM se Senotaafsaal ontwerp en gemaak en Van den Berg se maatskappy het die ontwikkeling van die nuwe uitstalling bygestaan met tegniese hulp en verskeie borgskappe. Hul toekennings is oorhandig deur dr. Danie Langner en ds. Cassie Aucamp.

Die daaglikse toewyding, passie en deursettingsvermoë van die VTM-personeel stel ons in staat om ons geskiedenis te vier, beskerm, onderhou en om ’n toekoms daarop te bou.

Zöricke Snyman het ’n hartverskeurende monoloog uit Die Gelofte Musiekblyspel opgevoer. Wat die oomblik meer spesiaal gemaak het was dat die aktrise die monoloog wat die Bloukrans-moorde verwoord, opgevoer het voor die fries, wat in die VTM se heldesaal dié bloedbad uitbeeld.

Johan Vorster het op sy beurt die gewilde “Waarheen, O God,” uit Die Gelofte-musiekblyspel gesing en dit opgevolg met die sing van die Gelofte, voor die fries wat Sarel Cilliers se gelofte aflegging uitbeeld.