‘n Aangrypende toneel het homself op Sondagoggend 29 Maart by die Voortrekkermonument afgespeel tydens die jaarlikse Diere in Krygsdiens-gedenkdiens en kransleggingseremonie. Ongeveer 200 mense, ‘n perd, twee honde en ‘n hok vol duiwe het by Diere in Oorlog-gedenkmuur bymekaargekom het om hulde te bring aan diere wat deur die geskiedenis heen ’n onmisbare rol in konflik en oorlog gespeel het.

Dit is die tweede jaar wat hierdie geleentheid deur die Diere in Krygsdiens-Veterane, onder leiding van Sersant Roché Vermaak aangebied is, wat self saam met sy hond Wolfie, ‘n krans gelê het.

Ongeveer 200 mense het die Diere in Krygsdiens-herdenkingsgeleentheid in die militêre tuin by die Voortrekkermonument bygewoon. (Foto: Du Preez de Villiers)
Sersant Roché Vermaak, organiseerder van die geleentheid aan die woord. (Foto: Du Preez de Villiers)

Perde, honde en duiwe is reeds bekendes op die slagveld, maar op hierdie gedenkmuur word daar verwys na ‘n rot wat landmyne uitgesnuffel het, katte op vegskepe, ‘n bobbejaan en selfs ‘n springbok, wat ‘n uitnemende diens op die slagveld verrig het.

Die merkwaardige bywoning – aansienlik hoër as wat verwag is vir ’n relatief nuwe geleentheid – getuig van ’n groeiende bewustheid en waardering vir die rol wat diere in diens van die mens verrig het, wat dikwels die hoogste prys betaal het.

Die standbeelde by die gedenkmuur van ‘n duif, hond en perd, geskep deur die bekroonde beeldhouer, Jaco van Niekerk, dien as ’n tasbare herinnering aan die lojaliteit, moed en opoffering van diere in oorlogstyd. Die kunswerke het reeds in sy kort bestaan ’n betekenisvolle plek in die land se erfenislandskap ingeneem.

Jaco van Niekerk, beeldhouer (Foto: Du Preez de Villiers)

In sy toespraak het Vermaak hulde gebring aan diere se onwrikbare diens en lojaliteit, en die gehoor herinner aan die ontelbare verhale van diere wat hul lewens in diens van die mens opgeoffer het. “Hierdie geleentheid herinner ons daaraan dat oorlog nie net mense raak nie, maar ook die stille, dikwels onsigbare helde – die diere wat sonder keuse, maar met onwrikbare trou, hul plek langs die mens ingeneem het,” sê hy.

’n Verdere hoogtepunt van die program was die toespraak deur Generaal Gert Opperman, voormalige besturende direkteur by die Erfenisstigting en die Voortrekkermonument, en die dryfkrag agter die ontwikkeling van die militêre tuin op die terrein. Opperman het die belangrikheid van herdenking beklemtoon en daarop gewys dat die geskiedenis van oorlog nie volledig vertel kan word sonder die stories van diere nie.

Die program is verder verryk deur die voorlesing van twee gedigte oor diere, wat ’n emosionele dimensie aan die verrigtinge verleen het en die gehoor diep geraak het. Hierdie oomblikke van stilte en refleksie het ’n gepaste balans gebied teenoor die meer formele militêre elemente van die dag.

Die vaandelparade, waartydens verskeie afdelings van weermagveterane hul vaandels vertoon het, het die seremonie se statigheid en simboliek versterk. Die parade het nie net militêre trots weerspieël nie, maar ook die eenheid tussen verskillende organisasies wat saamstaan om die verlede te eer.

Terwyl ‘n doedelsak daardie kenmerkende gewyde militêre atmosfeer geskep het, het meer as 40 veterane-organisasies en buite-organisasies kranse gelê – ’n duidelike aanduiding van die wye steun vir hierdie unieke herdenkingsgeleentheid. Die Kultuurtuiste het ook hulde aan hierdie stomme, maar dapper soldate gebring met Zieg van Huyssteen, bedryfshoof van die FAK en Leonie Marais van die Erfenisstigting wat elk ‘n krans gelê het.

Daar is spesiaal aan die duiwe wat in oorlog gedien het hulde gebring deur ‘n hok vol duiwe tydens die kransleggingseremonie los te laat.

Generaal Gert Opperman, wat destyds die militêre tuin begin het, vertel waarom dit belangrik is om jou veterane se bydrae te herdenk. (Foto: Du Preez de Villiers)
Luitenant-Kolonel Eddie Watson het die hartroerende doedelsakmusiek verskaf. (Foto: Du Preez de Villiers)
Leonie Marais, erfenisspesialis van die Erfenisstigting lê ‘n krans. (Foto: Du Preez de Villiers)
Zieg van Huyssteen, bedryfshoof van die FAK lê ‘n krans. (Foto: Du Preez de Villiers)
Laura van Niekerk speel The Last post and Reveille op die trompet op die perd Legacy terwyl Hannes van Niekerk die vlagstryking doen. (Foto: Du Preez de Villiers)

Soos die kranse een vir een neergelê is, het dit ’n kragtige boodskap oorgedra: dat die opofferings van hierdie diere nie vergeet sal word nie. Hulle stories leef voort – nie net in geskiedenisboeke nie, maar in die harte van diegene wat onthou.

Hierdie dag, wat ‘n belangrike plek op die Kultuurtuiste se kalender ingeneem het, dien nie net as ’n eerbetoon aan diere nie, maar ook as ’n geleentheid vir gemeenskappe om saam te kom en hul gedeelde geskiedenis te herdenk. Daarmee saam dui die sukses van vanjaar se verrigtinge daarop dat die Diere in Krygsdiens-herdenkingsdiens besig is om ’n gevestigde en betekenisvolle tradisie te word. Met toenemende belangstelling en deelname, is daar groot potensiaal vir verdere groei in die komende jare.

Volgende jaar sal die seremonie op 28 Maart gehou word.