Deur Danie Langner

Daar is kantelpuntdae in die geskiedenis wat se verreikende trefkrag ’n mens eers later besef. Donderdag 18 Maart 2021 was só ’n dag vir die Voortrekkermonument. Dit is vanjaar presies vyf jaar sedert die ledevergadering oor die Monument se toekoms moes beslis. Dié dag, ’n skamele 60 maande gelede, voel enersyds soos gister en andersyds of dit in ’n ander era afgespeel het.

Die keerpunt in die Voortrekkermonument se verhaal op 18 Maart 2021 sou waarskynlik nooit plaasgevind het as dit nie vir die buitengewone omstandighede van die tyd was nie. Die Covid-19-pandemie het die hele wêreld in sy spore gestuit, ook Suid-Afrika, toe die harde vlak 5-inperkings die land op 26 Maart 2020 in ’n nasionale ramptoestand gedompel het – inperkings en onsekerheid wat eers in April 2022 opgehef sou word.

Warboel en waakeenheid

Tussen Desember 2020 en Februarie 2021 het die pandemie se tweede Beta-golf tot 534 sterftes per dag gelei en meer as 80 000 lewens in dié tydperk geëis. Teen Februarie 2021 was die Monument self in ’n kritieke toestand in die waakeenheid. Geen geld, geen hulpbronne. In baie opsigte stukkend. Die personeel was getraumatiseer.

Op 18 Maart 2021 was daar drie strategiese keuses op die direksie van die Monument se tafel: sluit die hekke tot die pandemie verby is; gee die Monument in die staat se hande oor met die hoop op ’n finansiële olyftak; óf Afrikaners moes hande vat en saamwerk om dié wêreldbekende baken te red.

Die besluit? Afrikaners moes saamstaan. Dit was geensins ’n eenvoudige notuleaantekening nie. Hoewel die mandaat duidelik was, was daar vrae, twyfel, persepsies, wantroue, verwagtings en onsekerheid. Selfs sabotasie. Dit was egter sekondêre sake. Wat nodig was, was ’n laserfokus op ’n omdraaistrategie.

Oorweldigend en onstuimig

My belewenis van die eerste paar weke kan in een woord opgesom word: oorweldigend. Die Monument is ’n ingewikkelde ekosisteem met uiteenlopende belangegroepe, wette, beleide en ’n lang geskiedenis.

Poste en werkure is noodgedwonge tot op die been gesny – ’n proses gevul met pyn en emosie. Ek het in dié tyd dikwels aan ander krisistye gedink toe daar ’n Gerrit Maritz, Andries Pretorius, Paul Kruger, De Wet, De la Rey, Vader Kestell na vore getree het. In dié krisis was dit net óns geslag – gewone mense – wat oplossings vir die grootste bestaanskrisis in die Monument se geskiedenis moes vind én bied.

Oorgelewer aan omstandighede buite ons beheer, het dit soos ’n oorweldigende opdrag gevoel waarvoor wysheid net te min was.

In Mei 2021 het gewelddadige oproer landwyd uitgekring. Bloedrivier was een van sewe plase wat aan die brand gesteek is. Danksy die Bloedrivier-bestuursegpaar en die Zoeloe-gemeenskap is die brand net voor die museum en restaurant gestuit. Die ekonomie was vuisvoos, toerisme het opgedroog en rasseverhoudinge was gespanne. Dit was ’n tyd wat die Monument letterlik en figuurlik nie kon bekostig nie.

Verwoesting en verlies

Die winter van 2021 het die derde Covid-golf, die Delta-variant, gebring. Sowat 400 sterftes per dag en 79 000 lewens wat tussen Junie en September geëis is. Dié golf was groter en in baie opsigte meer verwoestend. Dit was sekerlik die bangste, eensaamste, moegste en moedeloosste tyd in my lewe.

My ma se suster en talle vriende is oorlede. Ek was in dié tyd ook Hoofleier van Die Voortrekkers en dit was traumaties vir dié beweging – ’n organisasie waar baie persoonlike ervarings gedeel word. Avonture, kampvure, die liefde vir ons taal, kultuur, geskiedenis, ons erfenis, ons land. Veral die liefde vir ons kinders. Ons deel vreugde, geesdrif en kreatiwiteit, maar ook teleurstellings en bekommernisse. Lief én leed. Hartseer was nie nuut nie, maar nog nooit was daar só ’n tyd in die geskiedenis waarin tragedie op tragedie, vlaag op vlaag, jou soos springgetygolwe in ’n stormsee getref het nie.

Binne weke moes Die Voortrekkers van 61 offisiere, legendes, jeuglede en vriende afskeid neem. Sommige Voortrekkers, veral kinders, het onder die mees tragiese omstandighede denkbaar gesterf. Ook Nico Tromp, geliefde hoofbeskermheer van Die Voortrekkers, het in dié tyd aan Covid gesterf. Sy dood was vir my soos ’n vuishou in die maag.

Afgrond en aangaan

Op 12 September 2021 het die hoofbestuur saam met familielede ’n gedenkdiens in die Senotaafsaal gehou. In die agtergrond was W.H. Coetzer se indrukwekkende skildery van Louis Tregardt se trek oor die Drakensberg.

Die kernvraag was: Wat doen ’n mens in ’n tragedie-see sonder uitkomskuslyn in sig? Die antwoord? Niks anders as wat die Voortrekkers destyds in die aansig van skynbaar onoorkombare berge gedoen het nie.

“Ons kyk op uit die dale en sien die duiselingwekkende hoogtes, steiltes en bedrieglike afgronde. Ons soek ’n pad oor die berg en vra: waar sal ons hulp vandaan kom? Dan kyk ons af. Ons buig voor die Here wat groter as die berge is. Ons bid. Dan gee ons die moeilike tree vorentoe. Tree vir tree oor die berge.”

Dit was ook die gesindheid waarmee die Kultuurtuiste se personeel die berge voor ons aangedurf het.

Greep en gees

Een middag stap ek deur die Monument se parkeerterrein. Dit was leeg. Geen bus of besoeker in sig nie. Geen lewe nie. Die Voortrekkermonument het soos altyd indrukwekkend uitgetroon, maar ’n gevoel van verlatenheid het ’n onheilspellende donker skadu gegooi.

Die broosheid van die plek, die trauma van die tyd, die verliese, die uitdagings, het my binneste geruk. Bowenal die wete dat mislukking nie ’n opsie was nie. Ek kon genl. J.B.M. Hertzog se woorde met die stigting van Die Voortrekkers in 1931 hóór: “As julle misluk, sal daar nie ’n tweede kans wees nie.”

Daardie middag het ek besef dat ek ’n greep moes kry. Nie op syfers, beleide, risiko’s, kontrakte, vooruitskattings of strategiese planne nie. ’n Greep op iets veel dieper: die gees van dié kosbare plek. In Latyn is dit genius loci, die betekeniswaarde en teenwoordigheid van ’n plek.

Asem en atmosfeer

In die Bybel leer ken ons die woord ruach, wat asem of gees beteken. Jy kan nie asem sien nie, maar jy kan dit in die stilte hoor, in die atmosfeer voel. In die stories van ’n plek ontdek. Ruach dui ook op lewe, lewensgewende krag, beweging. Die Monument is nie ’n dooie gebou nie en beslis veel meer as ’n toerismebestemming en erfenisterrein. Daar is ’n teenwoordigheid, ’n asem, wat lewe aan dié plek gee.

Die volgende dag het ek lank alleen in die Heldesaal gesit. Binne die Monument is ’n merkwaardige rustigheid. Gewydheid. Grootsheid. ’n Besef van tye, eeue, ewigheid. Die graniet absorbeer die buitewêreld se geraas. Die gebou dwing jou om stadiger te beweeg, na die koepel op te kyk, die friese soos ’n lang verhaal te lees wat oor geslagte strek. ’n Verhaal waarin jy die asemhaling van die geskiedenis kan hoor.

Die Voortrekkers het nie hul wêreld as ’n voltooide plek beleef nie. Hulle het beweeg omdat hulle in ’n beter toekoms geglo het. Die Monument gee vorm en inhoud aan daardie gees. Konflik en ontbering, maar ook die volharding wat nodig was om ’n nuwe toekoms te bou en ’n gemeenskap te vestig.

Volharding en vryheid

Die Groot Trek word nie as ’n triomfverhaal in die Voortrekkermonument aangebied nie. Dit herinner eerder aan die prys wat mense op hulle vryheidsreis betaal het. Dit is ’n verhaal van ideale en hoop, maar ook van lyding, verlies, trauma en onsekerheid. Dit is die verhaal van ’n volk wat, simbolies gesproke, uit klip gekap is.

Die klippe waaruit die Monument gebou is, dra dié simboliek. Dis nie net losweg op ’n hoop gestapel nie. Elke klip is met sorg gekap, gebeitel en gevorm as deel van ’n groter geheel. Net so is Afrikaners gevorm en gebeitel deur die tye waarmee elke geslag gekonfronteer word.

Die pioniersgees van die Voortrekkers spreek van selfstandigheid, vasberadenheid en volharding. Nie romanties of dramaties nie. Gewone mense wat ondanks omstandighede vasgebyt het om ’n vryheidsideaal deur volharding te verwesenlik.

Opdrag en opoffering

Namate ek die gees van die plek begin aanvoel het, het ek besef daar is ’n appèl in sy asem: Die Monument is ’n geskenk wat elke geslag Afrikaners ontvang om te versorg en aan ’n volgende geslag oor te dra. Dit vra toewyding en opoffering, soos in die woorde van “Die Stem”: “Ons sal offer wat jy vra”.

Hierdie roeping word nie in groot woorde of gebare getoets nie, maar in duisende dade van diensbaarheid en klein keuses: om verantwoordelikheid te aanvaar; getrou te bly; die derde en vierde myl te loop; mekaar se laste te dra; en om tyd en energie aan ’n gemeenskap te gee. Dit is meestal ongesiene dade en opoffering wat elke vesel van jou geloof, menswees, Afrikanerwees toets.

Elke geslag moet vra wat dit beteken om vir iets groter as jouself te leef. Wat is ons bereid om te gee sodat hierdie verhaal kan voortleef en die geslagte wat kom kan inspireer? Die gees van opoffering wat in die Monument uitgebeeld word, stel ’n hoë standaard vir die mense wat hier werk. Wát ons doen en hóé ons dit doen, moet waardig wees aan dit wat die Monument vergestalt.

Die gees van ’n plek is broos. Dit moet beskerm en gekoester word. Ons moet in ’n werklikheid van gebrokenheid na uitnemendheid streef. Gebrokenheid was deel van die Trekkerverhaal en is ook deel van ons verhaal vandag. Gebrokenheid is egter geensins ’n swakheid nie, leer ’n mens hier, maar ’n gawe wat ons aan ons Goddelike afhanklikheid herinner.

Skeuring en saamstaan

Einde 2021 het die gees van die Monument weer begin asemhaal. Uit die krisis het iets nuut uitgespruit. Die seerpunt van 18 Maart 2021 het ’n groeipunt geword. Voor die pandemie het kultuurorganisasies in silo’s gewerk, elkeen besig met sy eie prioriteite en aktiwiteite.

Ons wat kinders in die tagtigs was, het nooit Afrikanereenheid beleef nie, net skeurings. Die skeuring in die Nasionale Party, die NG Kerk, FAK. Dié pynlike skeurings het Afrikaners se onderlinge samewerking en verhoudings vir dekades gedikteer. Ek het nooit gedink dat ons geslag Afrikanereenheid sou beleef nie.

Tog het die saamstaanbesluit vyf jaar gelede ’n Kultuurtuiste met ontspanne samewerking en kulturele eenheid tot gevolg gehad. ’n Nuwe energie, betrokkenheid en wedersydse ondersteuning. Die Monument het opnuut ’n tuiskomplek geword vir diegene wat uit innerlike oortuiging bymekaar hoort. Nie net die georganiseerde kultuurwêreld nie, maar elke welwillende vriend, elkeen van die 40 000 mense wat Geloftedag in 2025 bygewoon het, is ’n beliggaming van dié gees.

Groei en gemeenskap

Die nuwe asem kan gesien, gehoor, gevoel word in die Vrijheidsreis-uitstalling in die Monument, kunstenaars se werk in die FAK-VTM-Kunsgalery, die Toekomsbou-museumteater, eerste Afrikaanse Ontsnapkamer, Krugergalery, Lewende Laer, Plaaswerf, Pioniersentrum, nuwe versamelings in die Erfenisstigting se argief, en die Afrikaner-navorsingsbiblioteek se samewerking met Akademia.

Die Monument se gees word gespieël deur die vriendelikheid van elke kliëntediensbeampte by die Hoofhek en Ontvangs, die gasvryheid by die Uitspan Deli en Skool op Wiele-restaurant. Die groei blom in die Trekroetetuin en bruis sigbaar op ’n Markplein vol toerbusse en mense.

’n Hartlike tuiste vir die gemeenskap met alles van matriekafskeide en verjaarsdae tot feeste, markte, skoolbesoeke, kongresse en konserte. Dit het ook ’n ankerplek geword vir Die Voortrekkers, Protea Boekhuis, Pro Patria Militêre Museum, die Rapportryers, Dameskring, Noord-Transvaalse Modeltreintjievereniging, Maroela Media en talle gemeenskapsinisiatiewe. Hier word erfenis nie net onthou nie, maar belééf en geniet.

Mense en moontlikhede

Mense is die asem van dié nuwe hartklop. ’n Welwillende gemeenskap en organisasies wat bereid is om hul tyd en energie te belê. ’n Trotse personeelkorps wat met liefde dien en in gebrokenheid uitnemendheid nastreef. Wat met innoverende denke en kreatiewe planne rande rek, sente omdraai en soos die Trekkers van ouds vorentoe beur.

Die afgelope 60 maande was ’n tyd van leer. ’n Tyd van foute maak en weer probeer. ’n Tyd van hoogtepunte en laagtepunte, van hoop en teleurstelling. Bowenal was dit ’n boutyd. Groeityd. Genadetyd.

Die grootste voorreg is om deel van ’n geslag Afrikaners te wees wat nie net geskiedenis lees nie, maar deur toekomsbou nuwe geskiedenis met ’n pen van hoop skryf. ’n Klein paragraaf in ’n opwindende, groot nuwe hoofstuk.