Mediaverklaring

8 Oktober 2023

Duisende “kies om aktief te wees” tydens The Big Walk by die VTM

 

Van voor seweuur Sondagoggend (8 Oktober) het die karre tougestaan in Eufeesweg en omliggende paaie om by die Voortrekkermonument se hekke in te kom vir The Big Walk.

The Big Walk is ’n pretloopgeleentheid wat aangebied word deur die Departement van Sport, Kuns en Kultuur. Die slagspreuk van die pretloop is “Choose 2B active.”

Luidens ’n verklaring deur die departement uitgereik, is Oktober ook Wêreld Stapmaand en moet dit gevier word deur aan fisiese aktiwiteite deel te neem en om jou eie fiksheid te bevorder.

Theresho Malepe het saam met sy broer en gesin kom draf. “Dit is ’n pragtige terrein hierdie, ons moet meer hiernatoe kom om te kom oefen,” sê Malepe.

“Vandag gaan alles oor fiksheid en gesondheid. Dit is vir my lekker om te sien dat so baie ander mense ook hul fisiese welstand prioritiseer en dat ons saam kan hardloop,” sê Charity Latekgomo.

“Ek is vandag hier om pret te hê saam met my gesin en om bietjie uit die huis te kom,” vertel Jane Moleko.

Deelnemers kon kies om aan ’n 5 km-, 10 km- of 15 km-pretloop deel te neem. Die deelnemers aan due 15 km het om 07:00 weggespring by Fleur, op die hoek van Moltenostraat en Hans Strijdom Rylaan. Die 10 km-deelnemers het om 07:30 weggespring by die Voortrekkermonument en die 5 km-deelnemers om 08:00, ook by die Voortrekkermonument. Al die deelnemers voltooi die wedloop by Fountians Valley Resort.

Die Voortrekkermonument is reeds besig met beplanning om oor twee maande weer duisende mense op die terrein te ontvang – hierdie keer vir Geloftedag. Verlede jaar het 20 000 mense Geloftedag bygewoon en die Voortrekkermonument poog om teen 16 Desember 2023 20 000 vriende aan te sluit. Sluit hier as ’n vriend van die Voortekkermonument aan: https://vtm.org.za/ondersteun/