Die tweede Voortrekkermonument-Boeremark, wat op Saterdag 30 Mei in samewerking met Saai aangebied is, was ’n reuse-sukses en het duisende besoekers gelok wat plaaslike boere, sekondêre verwerkers en entrepreneurs ondersteun het.

Met meer as 150 stalletjies, ’n hartlike gemeenskapsatmosfeer en ’n sterk boodskap van ondersteuning aan ons boere, het die Voortrekkermonument-Boeremark opnuut bewys dat daar ’n groeiende behoefte is aan persoonlike kontak tussen produsente en verbruikers.

Besoekers het voor hanekraai deur die Monument-terrein se hekke gestroom om vars plaasprodukte, handgemaakte items, tuisgebak, vleis, groente, vrugte en unieke kosprodukte te koop, terwyl families in die dag se feestelikheid gedeel het met musiek, vermaak en aktiwiteite vir oud en jonk.

Musiek deur onder meer die Cantina Brass-blaasorkes het groot byval gevind. Vir die kleinspan was daar plaasdiere, gesigverf, trampoliens, minigholf en verfbal-skyfskiet, wat die Boeremark in ’n ware gesinsuitstappie omskep het. Honderde deelnemers aan die weeklikse Parkrun by die Monument kon ná die sweet ook deur die stalletjies snuffel.

Die Arrie Nel-apteekgroep het ’n heerlike kuierruimte geskep waar gesinne en vriende kon kuier en daar is selfs ’n vergadering of twee in die skadu van die Monument gehou.

Volgens dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument, het die geleentheid gewys hoe sterk die publiek se steun vir plaaslike boere en entrepreneurs is.

“Ons boere is onder geweldige druk weens hoë brandstofpryse, duur insetkoste en uitdagings soos bek-en-klouseer. Tog wys die Voortrekkermonument-Boeremark dat Suid-Afrikaners ons boere waardeer en bereid is om hulle met hul beursies te ondersteun. Die belangstelling en geesdrif van die publiek het alle verwagtinge oortref,” sê Langner.

Volgens Langner gaan die Voortrekkermonument-Boeremark oor meer as inkopies. “Mense wil weet waar hul kos vandaan kom. Hulle wil die boer ontmoet, die stories hoor en deel word van ’n groter gemeenskap. Hierdie mark skep nie net ekonomiese geleenthede nie – dit bou vertroue, begrip en hoop.”

Verskeie uitstallers het gesê dat die dag vir hulle ’n groot finansiële inspuiting was en dat die ondersteuning van die publiek ’n betekenisvolle verskil in moeilike ekonomiese tye maak. Tientalle was reeds vroegoggend uitverkoop.

“Baie van die uitstallers oorleef letterlik van mark tot mark. Die geleentheid om hul produkte by die Monument van die hand te sit, is dus nie net ’n besonderse geleentheid in ’n historiese ruimte nie, maar ’n broodsaak,” sê Dawid Brand, bedryfshoof: bemarking en kommunikasie van die Voortrekkermonument.

“Die toenemende gewildheid van die Voortrekkermonument-Boeremark is deel van ’n groeiende wêreldwye tendens waar verbruikers verkies om plaaslik en direk by produsente te koop. Besoekers kan nie net gehalteprodukte vir goedkoper as winkelpryse koop nie, maar ook eerstehands beleef hoeveel harde werk en opoffering agter voedselproduksie skuil,” sê hy.

Die sukses van die Boeremark beklemtoon die belangrike rol van landbou in Suid-Afrika. “Boere voed gemeenskappe, skep werk en dra tot voedselsekerheid by, maar hul uitdagings word dikwels eers raakgesien wanneer voedselpryse styg of tekorte dreig,” sê Brand.

Volgens die Voortrekkermonument en Saai is die uitstekende bywoning tekenend van ’n sterk behoefte aan platforms waar gemeenskappe saam kan staan rondom plaaslike produksie, kultuur en selfstandigheid.

“Hoop leef waar gesinne en gemeenskappe saamkom en saamwerk. Elke aankoop, elke gesprek en elke besoeker dra by om die Suid-Afrikaanse landbousektor sterker en meer volhoubaar te maak. Dít is hoe ons ’n beter toekoms bou,” sê Brand.

  • Die volgende Voortrekkermonument-Boeremark vind op 27 Junie plaas.