Die jaarlikse herdenkingsdiens van die Raad vir Militêre Veterane-organisasies van Suid-Afrika (RMVO) is op Sondag 31 Mei met ’n plegtige seremonie en diep respek by die Suid-Afrikaanse Weermag Muur van Herinnering by die Voortrekkermonument aangebied. Veterane, families, burgerlike organisasies en militêre attachés van reg oor die wêreld het byeengekom om hulde te bring aan Suid-Afrikaanse soldate wat hul lewe in diens van die land verloor het.
Die RMVO vier vanjaar sy 50ste bestaansjaar. Met die tema “Hul opoffering, ons vryheid,” is klem gelê op die duur prys wat betaal is vir die vrede en vryheid wat ons vandag geniet.
Die bywoning deur meer as 1 000 gaste het die besonderse plek van die Muur van Herinnering in die harte van veterane en hul families bevestig. Sedert die Muur van Herinnering in 2009 by die Voortrekkermonument ingewy is, het dit ’n plek van samekoms, eer en nagedagtenis geword. Tans lys die muur die name van bykans 2 600 dienspligtiges, waarvan nagenoeg 800 met ’n asterisk gemerk is omdat hulle tydens militêre operasies gesneuwel het.
Ná die diens is 123 kranse deur verskeie militêre veterane-organisasies, internasionale militêre verteenwoordigers, families, burgerlike instellings en kultuurorganisasies gelê, insluitend die FAK en die Erfenisstigting.
Die statige verrigtinge is gekenmerk deur militêre eerbewyse, doedelsak- en panfluitmusiek, ’n sangitem en ’n oomblik van stilte, en het opnuut die opoffering van duisende dienspligtiges en beroepsoldate in herinnering geroep. Families van gesneuweldes het saam met veterane hulde gebring aan dié wat nooit huis toe gekom het nie.
Om 10:00 het twee Alouette-helikopters en twee Bosbok-verkenningsvliegtuie laag oor die Monument-terrein gevlieg, wat die statigheid beklemtoon en die belangrikheid van die dag dieper laat insink het.
Volgens samajoor Johann du Preez, voorsitter van die SA Weermagvereniging en organiseerder van die dag, bly dié jaarlikse herdenkingsdiens ’n belangrike geleentheid om erkenning te gee aan soldate wat hul lewens in diens van hul land opgeoffer het.
Du Preez het sy dank uitgespreek teenoor alle veterane, families, organisasies en ondersteuners wat in hul groot getalle die diens bygewoon en bygedra het om die nagedagtenis van gevalle soldate lewendig te hou.
Die teenwoordigheid van internasionale militêre attachés en verteenwoordigers van verskeie lande het die universele aard van militêre herdenkingsdienste beklemtoon – ’n erkenning dat soldate wêreldwyd opofferings in tye van konflik maak.
“Die SAW Muur van Herinnering by die Voortrekkermonument het oor die jare ontwikkel in een van Suid-Afrika se belangrikste militêre herdenkingsruimtes, waar die name van soldate bewaar word as deel van die land se breër geskiedenis en erfenis,” sê Dawid Brand, bedryfshoof: bemarking en kommunikasie, van die Voortrekkermonument.
“’n Land wat sy opofferings vergeet, verloor iets van sy menswees en historiese geheue. Ons militêre geskiedenis vorm deel van ons groter verhaal. Laat ons dié wat gedien én gesneuwel het, nooit vergeet nie,” het Brand gesê.






