Die jaarlikse Mampoerfees by die Voortrekkermonument het Saterdag 6 Junie alle verwagtings oortref toe meer as 2 000 besoekers ’n dag vol tradisie, musiek, familiepret en die beste tuisgestookte produkte in Suid-Afrika meegemaak het.
Die gees was van vroegoggend af tasbaar, en die vroeë winterkoue het spoedig vir heerlike sonskynweer plek gemaak. Die geur van tradisionele kos, die klank van boeremusiek en die vrolike gelag van families het die Monument-terrein in ’n ware viering van Suid-Afrikaanse kultuur en erfenis omskep. Besoekers het van reg oor die land saamgekom om die enigste erkende Nasionale Mampoerstookkampioenskap in Suid-Afrika te beleef.
Die hoogtepunt van die dag was sonder twyfel die aankondiging van die wenners van die nasionale kampioenskap. Vanjaar se kompetisie het met 262 inskrywings gespog, met stokers wat hul beste produkte in 34 verskillende klasse ingeskryf het. Stokers van so ver suid as Oudtshoorn en Uitenhage en so ver noord as Magoebaskloof en Ellisras het ingeskryf. Buiten tradisionele mampoer en witblits is daar ook meegeding in kategorieë soos brandewyn, jenewer, whiskey, rum en verskeie likeure.
Volgens Loftie Ellis, bekende onafhanklike wyn- en spiritusbeoordelaar van Stellenbosch, was die gehalte van die produkte vanjaar besonders hoog. “Stokers het nie net hul tegniese vaardighede ten toon gestel nie, maar ook merkwaardige kreatiwiteit aan die dag gelê. Besoekers kon unieke produkte proe wat wissel van tradisionele vrugtemampoer tot innoverende likeure met geure wat nie sommer elders te vinde is.”
Pieter van der Berg, president van die Mampoerstokersgilde, sê hy is baie positief oor die derde jaarlikse Mampoerfees wat by die Voortrekkermonument aangebied is, veral die feit dat soveel gesinne die dag saam by die Monument kom spandeer het.
Die nasionale mampoerkampioen vir 2026 is Alwyn Swart van Heilbron. Hy kon nie die verrigtinge bywoon nie en die toekenning is deur sy seun, Nico, wat saam met sy pa stook, in ontvangs geneem. Die witblitskampioene vir 2026 is Coetzee en Lusel Laubscher van Oudtshoorn.
Die gewilde Amahewu-veiling het weer groot belangstelling gelok. Skaars versamelbottels, nisprodukte, die kampioenstokers se wenprodukte, en unieke aandenkings is opgeveil. Veral die antieke versamelbottels en verouderde whiskey wat deur Gildelede gestook is, het die aandag getrek. Die hoogste bod van die dag is op R16 000 toegeslaan vir ’n 4 liter-whiskey in ’n antieke bottel.
Die fees het egter oor veel meer as net mampoer gegaan. Meer as 150 stalletjies het ’n verskeidenheid produkte aangebied, van kunsvlyt en plaasprodukte tot heerlike eetgoed. Gesinne kon rustig tussen die stalletjies wandel, terwyl kinders hulself geniet het met verskeie vermaakaktiwiteite.
Op die verhoog het kunstenaars en musikante die feesgangers deurentyd vermaak. Die gewilde groep Beeskraal, die veelsydige Kosie Beukes, die opkomende kunstenaar Zana Sonnekus, en die akteur en sanger Altus Theart het vir ’n feestelike atmosfeer gesorg. Tradisionele boeredanse en volkspele het verder bygedra tot die unieke karakter waarvoor die Mampoerfees bekend geword het.
Dawid Brand, bedryfshoof: bemarking en kommunikasie van die Kultuurtuiste, sê die fees bewys opnuut dat ons kulinêre en kultuurerfenis die vermoë het om gemeenskappe van oraloor bymekaar te bring. “Die Mampoerfees gaan oor die stories van families, die kennis wat van geslag tot geslag oorgedra word, en die trots waarmee gewone mense ’n unieke deel van ons kultuurerfenis lewend hou. Dit is presies waarom hierdie fees jaar ná jaar groei.
“Wanneer duisende mense saam lag, dans, kuier en leer, sien ons hoe erfenis lewend bly. Die Mampoerfees bewys dat kultuur en tradisie leef in die harte van mense en gemeenskappe, en die besonderse herinneringe wat by hierdie wêreldbekende erfenisbaken geskep word.”













