Mediaverklaring

Mediaverklaring

9 Desember 2023

 

Elandré styg uit by die Voortrekkermonument

Gelofteweek by die Voortrekkermonument het duisende na die terrein gelok om kultuuraktiwiteite te geniet en behoorlik te skoffel saam met die bekende Elandré. Die parkeerarea voor die monument is omskep in ’n wemelende markplein en ’n feestent.

“Vriendelik, gesellig en feestelik! As vandag ’n voorsmakie is van wat kom, dan sien ek baie uit!” vertel Carel Boshoff, ’n feesganger sterk op pad na ’n kosstalletjie toe.

Dit is in hierdie feestent waar Elandré ’n gehoor vol vrolike Afrikaners vermaak het. Die monumentterrein het gewemel soos mense van regoor Suid-Afrika bymekaargekom het om Gelofteweek te vier.

Elandré sê dit was werklik spesiaal om aan die voet van die monument te kon optree.

“Ek het ’n ruk terug hier op ’n koppie gestaan en uitgekyk oor Pretoria. Toe het ek in die grond ‘Estetika’ geskryf, wat die naam geword het van my nuutste album. Ek hoop dat dit meer as net ’n album is, maar werklik deel word van die Afrikaanse kultuur. Daarom is dit vir my ’n groot voorreg om hier by die Voortrekkermonument te kan optree,” sê Elandré.

“Dit is lekker om Afrikaans te wees, en daarom vier ons Gelofteweek as trotse en vrolike Afrikaners! Tussendeur die pret en plesier word die Gelofte daagliks met die nodige respek en erns afgelê – en die hoogtepunt van die week is natuurlik die 16de waar ons bymekaarkom vir die kerkdiens en Gelofte-aflegging by die Voortrekkermonument,” vertel Frans de Klerk, veldtogbeampte.

Die akoestiese musiekduo Vrede, Francois Roux en Storm Opperman, het die dag afgeskop en die feesgangers in ’n feestelike kuier-bui gekry.

“Dit is vir ons ’n groot voorreg om hier te kan wees en ’n fantastiese ervaring om die Gelofteweek-verhoog met soveel ander kunstenaars te kan deel,” vertel Francois.

Die eerste vertonings van Gelofteweek was ’n reusesukses en die Voortrekkermonument sien uit om feesgangers te vermaak met ’n verskeidenheid aktiwiteite en vertonings wat deur die week gaan plaasvind!

Moenie hierdie week misloop nie, kry jou kaartjies per dag hier – https://vtm.org.za/gelofteweek-2023/