Sondag 4 Februarie het 30 Ferrari-eienaars met hul spogmotors in ’n konvooi op na Fort Schanskop by die Voortrekkermonument gery.

Hierdie konvooi is deel van die “Southern Equitorial Ferrari Automobili Club” (SEFAC). SEFAC is in 1967 deur Pierre Kelfkens gestig en is een van die oudste Ferrari-klubs in die wêreld.

Christo van Heerden, lid van die Gauteng-komitee, vertel dat die klublede ’n bestemming gesoek het om uiteindelik ongeveer 30 karre te kan parkeer en besluit toe op Buffelsfontein Beesboerdery in Greenlyn Village, Pretoria. So het die tema “eg Afrikaans” wortel geskiet.

“Ons het besluit om ’n event in Pretoria te hou aangesien heelwat lede wat Ferrari’s besit in Pretoria woon. Die meeste van ons uitstappies vind plaas in Johannesburg en omliggende gebiede en ons was lus vir iets anders … Ek het gedink dit sal wonderlik wees om ’n vinnige stop by die Voortrekkermonument te kan doen,” sê Van Heerden.

Die groep het in die parkeerterrein by die Voortrekkermonument bymekaargekom, waarna hulle as ’n konvooi opgery het na Fort Schanskop waar hulle bene gerek het en ’n geleentheid gegun is om foto’s te neem.

“Die lede het dit ongelooflik baie geniet en baie van hulle was nog nooit eers by die monument nie, maar het besluit om later ’n daguitstappie te doen om die monument beter te leer ken,” sê Van Heerden.

“Daarna het ons toe vertrek na ons eindbestemming, Buffelsfontein Beesboerdery, vir ’n heerlike ontbyt.”

SEFAC bestaan uit ongeveer 300 lede regoor die land en het vier afdelings in Gauteng, KwaZulu-Natal, Wes-Kaap en die Tuinroete. Hulle probeer om 12-14 saamrybyeenkomste per jaar te reël en neem deel aan liefdadigheidsaksies deur hul offisiële borg, Hot Cares van die radiostasie Hot 102.7

Hoe sluit ’n mens aan by hierdie klub?

“As jy sou wou aansluit en om te kwalifiseer, moet jy bewys hê dat jy die eienaar is van ’n Ferrari of toegang het deur middel van ’n trust of maatskappy,” sê Van Heerden.

Besoek gerus SEFAC se webwerf, https://sefac.co.za/, en volg hulle op sosiale media, https://www.facebook.com/groups/sefac/, om hul geleenthede te volg.