Die Studenteraad van Sonop Christelike Tehuis het vandeesweek drie fietse aan die Voortrekkermonument (VTM) geskenk as deel van die monument se nuwe sekuriteitsontwikkelingsprogram.

Sonop is die tuiste van 160 mansstudente aan die Universiteit van Pretoria en oor die jare het dié koshuis baie bekend geword vir hul tradisieryke gekiedenis en passie vir hul kulturele erfenis.

Die Voortrekkermonument is tans besig met verskeie ontwikkelingsprogramme, waaronder die uitbreiding van hul sekuriteitsmag, en daarom het Sonop besluit om vanjaar ook hul hande op te steek en ’n positiewe bydrae tot die bewaring en ontwikkeling van hul erfenis te maak.

André de la Port, Sonop-voorsitter het gesê dit is vir hom en die koshuis baie belangrik om te weet dat hulle ook kan bydra tot die ontwikkeling van die VTM.

“Sonop het ’n jarelange tradisie dat ons eerstejaars nie karre mag hê nie,” het hy vertel.

“Ons het dus baie fietse wat hier agter bly as ons studente graad vang en uit trek of aan ons skenk en toe ons sien dat die VTM opsoek is na fietse het ons besef dit is ’n lekker manier om betrokke te raak in ons gemeenskap.”

Hierdie fietse is gerestoureer uit die Sonop JOOL-fonds wat, volgens De la Port en sy HK-span juis die gees en tradisie van JOOL lewend hou.

“Toe TUKS-JOOL effens begin doodloop het, het ons besluit om die tradisie lewend te hou deur gereëlde projekte en fondsinsamelings te hou om by te kan dra tot verskeie liefdadigheidsorganisasies.

JOOL, oftewel die Jeug se (in later jare vervang met “jou”) Onbaatsugtige Opoffering vir Liefdadigheid is ’n jarelange universiteitstradisie wat jong mense leer om betrokke te raak by hul gemeenskappe.

De la Port het, saam met Armand Marshall (Sonop HK van grond en geboue), besluit om drie nuut gerestoureerde fietse aan die VTM te skenk.

Verlede jaar het die koshuis ook 12 oorspronklike Pierneef-skilderye in die veilige bewaring van die VTM se Erfenissentrum geplaas, wat met jare deur die koshuis versamel was en hierdie projek is net nog ’n hoofstuk in die geskiedenis van Sonop en die VTM.

“Ek dink dit is mens se burgerlike plig om meer betrokke te raak by ons monumente en museums, daarom het ons nie twee keer gedink om by hierdie projek betrokke te raak nie. Ek hoop ons kan nog baie projekte saam aanpak in die toekoms,” het Marshall gesê.

Die Voortrekkermonument stel sekuriteit en die veiligheid van hul besoekers en die VTM-familie hoog op prys en wil met hierdie skenkingsinisiatief die terreinbeveiliging tot selfs hoër hoogtes neem. Dit is van kardinale belang dat elke besoeker se monumentervaring ten alle tye ’n aangename, veilige een moet wees en hierdie fietse gaan die sekuriteit-span in staat stel om gereëlde bospatrollies uit te voer en sodoende die VTM-terrein nog meer te beveilig.

Vir enige ander navrae oor hierdie skenkingsinisiatief of hoe jy betrokke kan raak by ons huidige ontwikkelingsprojekte, kan julle gerus vir Henk Maree kontak by henk@kultuurtuiste.org.za.