ONS STORIE
GESKIEDENIS
DIE MONUMENT
Die eerste gedagte om ’n monument te bou ter ere aan God en die Voortrekkers, het in 1888 in vrugbare grond geval. In 1931 kom hierdie plan tot werking en die argitek, Gerard Moerdijk word aangestel om planne vir ‘n reusagtige monument te teken. Moerdijk se ideaal was om ’n monument te ontwerp wat as ‘n “gedenkteken duisend jaar en langer moet staan om aan die nageslagte die geskiedenis en betekenis van die Groot Trek te verduidelik.”
Moerdijk het ’n unieke ontwerp vir die monument gekies. Die reusagtige granietmonument is op ’n koppie gebou en kan van alle kante van Pretoria gesien word. Die monument dien hiermee as ’n baken van hoop en ’n herinnering aan die Afrikaner van hul erfenis. Die Voortrekkermonument is sonder twyfel ’n weldeurdagte kunswerk met baie simboliek. Geen beeld is slegs vir estetiese waarde gemaak nie – alles beteken iets.
Sou ’n mens in verwondering voor die monument te staan kom, is daar eers 299 trappe om te klim, wat na die ingang van die monument lei. Op die boonste trap, is daar ’n assegaaihek en ’n laermuur wat die monument omring.
Die laermuur bestaan uit 64 waens in basreliëf en is ’n noukeurige afbeelding van die kakebeenwaens waarmee die Voortrekkers die binneland ingetrek het. Die walaer is ’n mengsel van stukkies marmer, graniet en sement wat as terrazzowerk bekend staan.
Elke wa is 4.6 meter lank en 2.7 meter hoog. Die 64 waens rondom die monument is dieselfde getal waens wat tydens die Slag van Bloedrivier (16 Desember 1838) gebruik is. Hierdie laermuur is simbolies vir die beskerming van die monument. ’n Laertrek was tradisioneel ’n verdedigingstegniek wat deur die Voortrekkers in ’n gevegsituasie gebruik is, waartydens die waens in ’n sirkel getrek en die gevare van binne afgeweer is.
Soos ’n mens deur die assegaaihek stap, vang jou oog eerste die reusagtige vrou- en kinderbeeld, uit die hand van die beeldhouer, Anton van Wouw. Hierdie beeld is die eerste openbare standbeeld in die geskiedenis van Suid-Afrika wat in brons gegiet is. ’n Mens sou wonder wat hierdie asemrowende beeld kan simboliseer? Van Wouw se idee was om hulde te bring aan die Voortrekkervrou en die rol en deelname wat sy tydens die Groot Trek gespeel het. Die beeld stel ’n Voortrekkermoeder met haar twee kinders voor. Dis simbolies van die kultuur en Christendom wat deur die vrou gedurende die Groot Trek gehandhaaf en uitgebou is. Van Wouw het Isabel Snyman, ’n verpleegster, as model vir die vrou gebruik en Betty Wolk en Joseph Goldstein as modelle vir die kinders. Die beeld is meer as 4 meter hoog en weeg 2.5 ton.
As ’n mens jou klaar verkyk het aan die vrou- en kinderbeeld, kan jy uiteindelik die monument binnegaan. Jy staan in die asemrowende heldesaal met ’n marmervloer en beelde uit marmer reg rondom die mure gekerf. Hierdie marmerfries beeld die storie van die Groot Trek in detail uit.
Die Heldesaal se marmervloer is met wyer wordende sirkelpatrone bedek. Hierdie ontwerp stel watergolfies voor nadat ’n klip in die water gegooi is. Dit word wyer en wyer totdat dit die hele Heldesaal vul. Dit simboliseer die verspreiding van die gees van opoffering wat van die Voortrekkers uitgegaan het, totdat die gevolge daarvan die hele land gevul het.
Bokant die Heldesaal is ’n koepel met ’n groot ronde opening in die middel. Bokant hierdie koepel is ’n tweede koepel, wat die aardbol voorstel. As die lyne van hierdie tweede koepel deurgetrek word, sal die hele monument in een groot sirkel omring wees. Die boonste koepel is simbolies van die omvang van die Voortrekkers se tog na die binneland. Indien jy by die koepel sou afkyk, sien jy die beroemde senotaaf.
Die senotaaf is die sentrale fokuspunt van die monument. Die woord “senotaaf” beteken ‘n “graf sonder beendere”. Dit is dus ‘n leë graf – die simboliese rusplek van Piet Retief en al die ander Voortrekkers wat tydens die Groot Trek gesterf het.
Een keer per jaar, op 16 Desember, skyn ‘n sonstraal deur die opening in die boonste koepel van die monument op die middel van die senotaaf.
Dit verlig die woorde “Ons vir jou, Suid-Afrika.” Die argitek, Gerard Moerdijk, het dit spesifiek só beplan, omdat die sonstraal God se seën op die lewe en werk van die Voortrekkers versinnebeeld. Hierdie ontwerp was beslis voor sy tyd.
Gaan jy by die trappe af (aan die kante van die saal), kom jy by die Senotaafsaal uit. Met die senotaaf in die middel, staan jy in ’n massiewe saal, omring met skilderye wat verder vertel van die dag-tot-dag lewe van die Trekkers. Uit hierdie vertrek kan jy ook die museum besoek.
Tydens die 1938-Groot Trek-herdenking, het die ATKV ‘n landswye veldtog geloods waartydens Voortrekkergedenkwaardighede ingesamel is. Die vragte museumitems wat ingesamel is, is tydelik by Hartenbos gestoor met die gedagte dat dit eendag in die Voortrekkermonument se eie museum ten toon gestel sou word.
Vandag kan die publiek die geskiedenis van die Afrikaner verder ontdek op die onderste vloer van die monument. Die museumversameling bestaan uit wasbeelde wat tonele uit die Groot Trek voorstel, tapisserie-kunswerke en skilderye, asook werklike items, uit die Groot Trek.
Woorde is eenvoudig te min om die omvang van die monument se geskiedenis en waarde te beskryf. Ons nooi jou uit om die monument self te kom ontdek en te beleef met jou volgende besoek.
DIE ANGLO-BOEREOORLOG
Na die Groot Trek het boeregemeenskappe hulle regoor Transvaal, die Noord-Kaap en die Vrystaat gevestig. Families het op afgesonderde plase ’n ekonomiese bestaan gehandhaaf. Dit is merkwaardig hoe enkele trekgemeenskappe twee republieke, sonder die leiding van ’n politieke mag of kerk, uit niks kon opbou. Van 1837-1852 het die Voortrekkers hard gewerk om die twee republieke uit te bou. Infrastrukture moes ontwikkel word, staatsadministrasie en belastingstelsels moes in plek gebring word en die grootste deel van die binneland was onbewoon en moes getem word.
Die twee Boererepublieke het selfstandig en rustig ’n ekonomiese bestaan gevoer, gegrond in die versorging van families, grondbesit en landbou. Dit het egter nie lank geduur nie. Met die ontdekking van diamante in Kimberley was die Britte desperaat om hierdie twee Boererepublieke weer onder die Britse Ryk te vestig.
Die eens sukkelende Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) het met die ontdekking van goud oornag welvarend geword. Dorpe soos Pelgrimsrus ontstaan naby die plek waar spoelgoud ontdek is. Die infrastrukture bou byna hulself. Teen 1888 was daar reeds 103 goudmyne. Stedelike gemeenskappe was skielik kapitalisties en individueel onafhanklik.
Die Britse Ryk het op ’n subtiele manier die land begin annekseer. Een van die voorlopers wat hom teen hierdie anneksasie verset het, is op hierdie stadium die 52-jarige Paul Kruger. Hy lei op ’n demokratiese wyse die volk in protes teen Britse anneksasie van Suid-Afrika. Kruger het ook na Europa gereis waar hy vir die eerste keer met buitelandse diplomasie kennis gemaak het. Kruger se protesbeweging het tot die oorwinning van die Eerste Vryheidsoorlog gelei en hy word die president van Transvaal. Hierdie groot oorwinning was maar kortstondig, aangesien Britse militêre leiers soos Cecil John Rhodes en Alfred Milner daarop uit was om beheer oor die Transvaal en Vrystaat te wen.
In 1899 word oorlog tussen die twee Boererepublieke en die Britse Ryk verklaar. Na die val van Pretoria en Bloemfontein binne ’n jaar, het die Britte aangeneem die oorlog is verby. Soos die Voortrekkers al voorheen bewys het, is die Afrikanervolk nie een vir ingee nie. Onder die leiding van Christiaan de Wet is ’n nuwe krygstaktiek ontwikkel (guerrilla-oorlog) en vir ’n tydjie is die oorwinning aan die Boere se kant.
Vroue het die Boeresoldate van die plase af ondersteun met vars kos van die landerye. Op hierdie manier het die ekonomie ook aanhou vloei. Om hierdie ondersteuning aan die Boere stop te sit, het die Britse militêre leier, Milner, die verskroeideaardebeleid saamgestel. Elke plaas se huis, lande en vee is tot die grond afgebrand. 60 000 huise en 30 000 plase is afgebrand. Alles wat die Trekkers tot dusver opgebou het, is nou wildernis. Vroue en kinders is in konsentrasiekampe geplaas.
Honderde konsentrasiekampe is regoor Suid-Afrika gevestig. Die omstandighede in hierdie kampe was onmenslik. Daar was swak sanitêre geriewe, onvoldoende mediese versorging en siektes het soos veldbrande versprei. Daar was geen seep of waswater nie, te min kos, vrot vleis, geen groente of vrugte, geen doeltreffende geneesmiddels en onvoldoende huisvesting in tente wat geen beskerming gebied het nie. 22 074 kinders, 4182 vroue en 1500 bejaardes het in die konsentrasiekampe gesterf. Oorlewendes is dikwels met geweld deur sommige van die troepe behandel.
NJ van der Merwe is een van die stil Afrikanerhelde wat gehelp het om na vroue en kinders in die konsentrasiekamp om te sien. Omdat hy te jonk was om saam met sy pa te gaan veg, moes hy saam met sy ma en susters in die konsentrasiekamp gaan woon. NJ het daagliks gaan hout soek vir die persone in die kamp om vuur te maak. Hy het ook in die kamp, onder Engelse beheer, sy skoolopleiding voltooi. Dit was sy werk om te kyk wie die dag by die skool afwesig is en hulle dan te gaan soek. Die omstandighede in die kamp het NJ diep geraak. Later in sy lewe word hy die skoonseun van pres. MT Steyn en word die eerste hoofleier van die Voortrekkerbeweging. Hy het sy lewe aan die behoeftes van Afrikaners gewy.
Met die verslegtende omstandighede in die konsentrasiekampe, het die Boererepublieke in 1902 besluit om die oorlog ter wille van die vroue en kinders te eindig. Suid-Afrika was nou onder Britse beheer. Platgeslaan deur die oorlog, moes die Afrikaners na niks toe terugkeer en alles weer van voor af opbou. Weer het die Afrikaner bewys hoe ’n volk uit niks uit kan opstaan.
Foto’s van die Anglo-Boereoorlog in kleur deur Tinus le Roux.
FORT SCHANSKOP
Fort Schanskop wat dateer uit die Anglo-Boereoorlog is op die
Voortrekkermonumentterrein geleë.
Na die Jameson-inval in 1896 het pres. Paul Kruger van die ZAR besluit om Pretoria te verdedig deur forte op strategiese plekke te laat bou. Aanvanklik sou agt forte gebou word, maar weens ‘n tekort aan fondse is slegs vier voltooi.
Fort Schanskop is in 1897 voltooi en is só gebou dat dit aanvalle op Pretoria vanuit die rigting van die Johannesburg- en Lourenco Marques-spoorlyn, asook die pad vanaf Johannesburg, kon afweer. Deur draaibare geskut op die fortwalle te plaas, kon aanvalle uit alle rigtings gestuit word. Teen 1899 het Schanskop oor een 155 mm Creusot-kanon (Long Tom) en twee Maxims (Pom-poms) beskik. Die bemanning het uit een offisier en 30 manskappe van die Transvaalse Staatsartillerie bestaan.
Met die uitbreek van die oorlog, is die manskappe en die wapens egter na die Natalse front geneem en die fort is heeltemal onbewaak agtergelaat.

Op 7 Junie 1900, net na genl. Roberts se inval in Pretoria, is die forte beset. Schanskop is deur die 2nd Battalion Royal Dublin Fusiliers beset.
In 1922 is die forte aan die Unieregering terugbesorg en van toe af vir sein- en waarnemingsdoeleindes deur die Verdedigingsmag gebruik. Schanskop is in 1938 as ’n historiese monument deur die Historiese Monumentekommissie geproklameer.
In 1962 is besluit om ’n militêre museum in Pretoria in te rig. Die keuse het op Fort Klapperkop geval, maar die museum is later uitgebrei om ook Schanskop in te sluit.
Beide museums is a.g.v. begrotingsnitte teen 1994 deur die SA Weermag ontruim en aan die Staat teruggegee. Die Voortrekkermonument en Natuurreservaat se tender van R400,000.00 vir Fort Schanskop (sonder inhoud) is aanvaar en dit is in Junie 2000 finaal vanaf die Stadsraad van Pretoria na dié Artikel 21-maatskappy oorgedra. Daar is onmiddellik daarna oorgegaan tot ’n omvattende opknappings- en uitbreidingsprogram.
ANGLO-BOEREOORLOG LEIERS
Generaal Louis Botha het tydens die Anglo-Boereoorlog by die Krugersdorp-kommando aangesluit. Hy het Boeremagte tot oorwinning gelei by Colenso en Spioenkop. Na die afsterwe van genl. Joubert, word Botha die leier van die Transvaalse Boere. Hy word later ook as die eerste minister van die Suid-Afrikaanse Unie aangekondig.
INTERESSANTE FEIT OOR BOTHA:
Hy is die man wat Winston Churchill, die Britse premier, gevange geneem het.
In die eerste fases van die oorlog, het Smuts gedien as die oë en ore van pres. Paul Kruger in Pretoria. Smuts het aanvanklik onder leiding van Koos de la Rey in die Anglo-Boereoorlog gedien. Later het hy ook sy eie kommando gelei. In het 1902 het ’n hy groot rol in die onderhandeling met die Vrede van Vereeniging gespeel wat tot die einde van die oorlog gelei het. Smuts dien ook later as die eerste minister van die Unie van Suid-Afrika in 1919-1924.
De Wet was deel van die Boerekommando by Heilbron. Hy is vinnig bevorder tot ’n bevelvoerder. De Wet het sy kommando tot baie oorwinnings gelei. Later ontvang hy ook ’n brief van pres. Steyn wat sê dat hy tot ’n generaal in die oorlog verkies is. De Wet was ’n meester in guerrilla-oorlogvoering. Hy het aan groot veldslae, soos die een by Sannaspos deelgeneem. De Wet het ook deelgeneem aan die vredesonderhandelinge in 1902.
Koos de la Rey was ’n gewilde Boeregeneraal tydens die Anglo-Boereoorlog. Aanvanklik het hy onder generaal Cronjé gedien. Nog heel aan die begin van die oorlog, by Kraaipan, lei De la Rey die boere tot oorwinning. Hierdie veldslag het hom bekend gemaak. De la Rey was die bevelvoerder van ongeveer 500 kommando’s wat hy tot vele oorwinnings gelei het. De la Rey is egter na die oorlog noodlottig deur die Suid-Afrikaanse Polisie geskiet.
Bronne: N.J. Hou koers – Danie Langner
Verkennerlewe – Die Voortrekkers