“’n Helder vlam van toekomshoop.”

Só beskryf dr Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument (VTM) die moderne Afrikaner- ons is almal ’n vlam van hoop wat helder en warm brand.

Oor die laaste paar dekades blyk dit dat die Afrikaners versigtig was om dié bordjie om hul nekke te hang, maar in ’n moderne Suid-Afrika begin mense weer die naam Afrikaner met trots dra.

Op Geloftedag 2022 het die Voortrekkermonument bewys dat daar in ’n hedendaagse Suid-Afrika weer ’n groot herlewing van trots is in die Afrikanerkultuur.

In 2021 het ongeveer 10 000 mense die VTM besoek tydens Geloftedag en verlede jaar is die getalle verdubbel met meer as 20 000 Afrikaners wat saamgekom om die eeueoue belofte aan God in stand te hou.

“Wat op Geloftedag by die Voortrekkermonument gebeur het is verstommend en groots,” het Langner verduidelik.

“Ek probeer om tot verhaal te kom en sin daarvan te maak. Op ’n manier kan ek indink dat dit dalk kon wees hoe die Voortrekkers die oggend na 16 Desember gevoel het. Mens maak planne, berei na die beste van jou vermoë voor, kyk na die weer, bid dat alles reg sal verloop en dan gebeur daar iets vêr bo verwagting en denke en dade wat jou eenvoudig verstom laat. Na die 16de Desember is ek ongelooflik dankbaar. Dankbaar vir elke Afrikaner wat by hulle Monument was. Dankbaar vir soveel welwillendheid, ondersteuning, opgewondenheid oor ons erfenis. Dankbaar oor letterlik duisende kinders, jongmense en gesinne wat Geloftedag bywoon. Dit is ’n helder vlam van toekomshoop.”

Verlede jaar het ons weer verskeie voorbeelde gesien van Afrikaners wat saamstaan: Meer as 30 000 wat saam baklei het om die Afrikaanse Taalmonument, meer as 20 000 by die VTM se Geloftedagvieringe en duisende volwassenes én jongmense wat regoor die land hul moue opgerol het om gedenktekens, monumente, grafte en ander besienswaardighede in stand te hou.

Hierdie getalle is ’n sprekende bewys van die Afrikanerstem wat steeds hoorbaar in ons land is en die jong Afrikaners se drang om hul kultuur en geskiedenis te bewaar en uit te bou.

Dit is duidelek dat jongmense en die jonger generasies weer die waarde begin besef van taal en geskiedenis.

“Ek is veral dankbaar vir jongmense soos Denzil Labuschagne (15), nasaat van die Voortrekkerleier Piet Uys, wat die Gelofte voor duisende mense rustig, sonder papier of lees, foutloos afgelê het. Dit is die generasie wat in die toekoms in gaan lei.”

Die VTM het verlede jaar én aan die begin van 2023 het toerisme ook ’n opbloei beleef en het die besoekersgetalle onder plaaslike mense drasties toegeneem wat weereens wys dat mense terugkeer en dat daar ’n hunkering is om geskiedenis te verstaan.

“Onder die Afrikaner is daar weer ’n trots en sin van behoort.”