Mediaverklaring

8 Desember 2023

“Hou ons helde hoog”

Die tweede grootste skenking wat die Erfenisstigting nog ontvang is vandag, 8 Desember 2023, in ontvangs geneem.

“Hou ons helde hoog,” sê Garth Kruger terwyl hy na ’n kunswerk van die groot Anglo-Boereoorlog-leiers beduie.

“Hierdie kunswerk het in my oupa se huis gehang en ek het al die name geken,” vertel Kruger.

Kruger het oor die 140 items wat hom 40 jaar geneem het om te versamel, aan die Erfenisstigting by die Voortrekkermonument geskenk.

Dié skenking bestaan hoofsaaklik uit items van Paul Kruger en die Anglo Boereoorlog. Dié is net gepas siende dat sy vrou Arnolda ’n afstammeling van Paul Kruger self is.

“Ek kon myself ’n miljoenêr maak met hierdie versameling, maar ek wil hê mense moet dit sien. Hierdie items is te waardevol,” sê Kruger.

Kruger het onder meer ’n wastoel geskenk wat uit die Groot Trek kom, kunswerke, beeldjies, punte, knipmesse en memorabilia. Kruger het veral ’n groot belangstelling in historiese posseëls.

Waar kom sy liefde vir geskiedenis vandaan?

“Ek het ’n onderwyser op skool gehad wat my lief gemaak het vir geskiedenis, meneer Kragford van Worchester,” vertel Kruger.

Lizette Jansen, erfenisbestuurder by die Erfenisstigting, sê dat Kruger se skenking baie belangrik is. “Ons wil graag hierdie items deel maak van ’n uitstalling, sodat die publiek ook hierdie waardevolle erfenisstukke kan sien,” sê Jansen.

Kruger voel baie sterk daaroor dat ons helde nie net onthou moet word nie, maar steeds hoog gehou moet word. Om Geloftedag te vier, is een van die maniere om ons helde te onthou en God te eer vir die wonderwerke wat daardie dag plaasgevind het.

As jy een van die 185 000 mense is wat nog Geloftedag vier, registreer jou naam hier: https://vtm.org.za/ek-is-een-van-185000/