Joernalis en skrywer Jim Hooper se sterfwens is op 6 April nagekom, toe hy sy ewige rusplek saam met sy Koevoet-makkers by die Voortrekkermonument gekry het.
“Jim het van enige joernalis die akkuraatste verslaggewing oor Koevoet gegee, want hy het saam met ons beweeg. Hy was een van ons,” sê Wessie Wessels, voorsitter van die Koevoet Veterane Bond.
Die jaarlikse herdenkingsdiens is op 6 April 2024 by die Koevoet-muur by die Voortrekkermonument gehou vir die Koevoet-soldate wat tydens die Grensoorlog gesneuwel het. Hooper het by hierdie geleentheid ook sy ewige rusplek in die Troostuin gekry en die diens is aan hom opgedra.
“Hy (Hooper) het verskeie boeke geskryf oor Koevoet en verslag gedoen. Hy het saam met ons beweeg en is selfs gewond in een van die gevegte. Hy is een van ons,” sê Wessels.
Hooper is op 11 Januarie 2024 oorlede.
Die Koevoet-eenheid is deur die Suid-Afrikaanse Polisie ontplooi om van 1979-1989 in die Grensoorlog in Angola te gaan veg. 165 man van die eenheid is tydens die oorlog oorlede. In 2012 het die Koevoet Veterane Bond ’n oorkoms met die Voortrekkermonument aangegaan om die herdenkingsmuur hier op te rig.
Soos oudergewoonte het die publiek weer die geleentheid gekry om kranse te lê aan die voorkant van die Koevoet-muur.
“Die name voor op die muur is van die soldate wat tydens die oorlog gesneuwel het, en die agterkant van die muur is vir Koevoet-lede wat later gesterf het of ander eenhede wat ’n groot rol gespeel het. Sou bou ons iets vir die toekoms en los ’n nalatenskap,” sê Wessels.
Dit is vir die Voortrekkermonument ’n eer om deel te kan wees van die nalatenskap en herdenking van die dapper manne wat tydens die Grensoorlog gesterf het. Jou vriendskap kan ons help om ons erfenis behoue te laat bly: www.vtm.org.za/donasies/