Die gewilde familierestaurant, Buffelsfonteinbeesboerdery het op 9 April gasheer gespeel vir hordes geskiedenisliefhebbers en die Groot Trek geskiedenis op ’n unieke wyse herdenk.
Vroeër vanjaar het Buffelsfontein, die Voortrekkermonument en Erfenisstigting hande gevat om die eerste geskiedenisvasvra aand van sy soort aan te bied toe hul die Slag van Majuba en die Eerste Vryheidsoorlog herdenk het, met ’n interessante praatjie, aangebied deur die gewilde sanger Pieter Smith.
Hierdie maand was die fokus op die Groot Trek en die Slag van Italeni wat plaasgevind het op 11 April 1838.
Smith het tydens die aand verduidelik dat dit vir hom lekker is om deel te wees van hierdie projek omdat dit hom, wat self ’n groot geskiedenisliefhebber is, die geleentheid gee om die Afrikaner se geskiedenis te deel met jonk en oud.
“Vanaand is ons hier om bietjie pret te hê en ons geskiedenis te vier,” sê hy. “Ek sal myself glad nie ’n geskiedenis kenner noem nie, maar soos almal wat hier saam met ons is, is ek baie lief vir en baie trots op ons ryk geskiedenis en daarom is dit lekker om deel te kan wees van hierdie praatjie en vasvra aand.”
Die Voortrekkermonument het tydens die geleentheid verskeie historiese voorwerpe hiér uitgestal:
’n Bandolier, kruithoring, waterbottel, verkyker, tower-voorlaaier, ’n geweer wat dateer uit die Groot Trek.
Die aand is oudergewoonte afgesluit met ’n geskiedenisvasvra.
Henk Maree, operasionele bestuurder van die Voortrekkermonument, sê dié geleentheid het net weer bewys dat die Afrikaner se geskiedenis gevier moet word.
“By die Voortrekkermonument sien ons daagliks jonk en oud hiér kom kuier om meer te leer oor die geskiedenis van die Afrikaner, maar dit is werklik lekker om te sien da tons geskiedenis buite die monument ook nog lewe,” sê hy.
“Tydens die Slag van Italeni het twee van die grootste Afrikanerhelde, Piet en sy seun Dirkie Uys, hul lewens verloor en vandag het on sweer die geleentheid gehad om hul, en soveel ander helde uit ons geskiedenis se lewens te vier.”