Drie jaar na die nuwe bestuur van die Voortrekkermonument ingetree het, het die fokus geskuif van besoek ’n museum na beleef jou erfenis met 38 groot projekte wat op die historiese terrein aangepak is in die kort tydperk.

Hierdie besonderse sukses kan ons nou 75 jaar na die inwyding van die Voortrekkermonument aankondig.

Ons deel graag hierdie suksesse na Wêreldentrepeneursdag (16 April) en Wêreldmonumentedag (18 April) gevier word, en die monument homself posisioneer as ’n baken van hoop en die toonbeeld van kulturele entrepreneurskap. Hierdie sluit ook nie eers die kleiner projekte in wat op ’n weeklikse basis aangepak en afgehandel word nie.

In 2020 het die Voortrekkermonumentbestuur voor ’n moeilike besluit te staan gekom; of hy sy deure moet sluit of nie. Die monument ontvang ook geen staatsubsidie nie. Daar is besluit om ’n omdraaistrategie in plek te stel en ’n nuwe bestuur het die leiding geneem. Danksy die gemeenskap se inkoop, kan die Voortrekkermonument nou met trots terugkyk na alles wat vermag is.

“Die betrokkenheid van ’n gemeenskap binne die kultuur moenie onderskat word nie. Vanuit die gemeenskap het ons ’n geweldige bydrae gekry; kyk maar na die waardevolle skenkings en mense wat aansluit as vriende van die monument. Die gemeenskap se bydrae maak kulturele entrepreneurskap suksesvol,” sê Petré Theron, adjunkhoof van die Voortrekkermonument.

Die afgelope drie jaar het die Voortrekkermonument verskeie projekte aangepak om die kultuuraanbod uit te brei. Drie nuwe museums is op die terrein geopen, Skool op Wiele restaurant is gebou, ’n skoleaanbod is ontwikkel en nog vele, vele meer.

Volgens, Henk Maree, hoof van funksies en feeste by die Voortrekkermonument, sien ’n mens nie net die groei in nuwe projekte nie, maar ook in die groei van besoekers.

“In 2023 was daar 10 groot feeste op die terrein. Hierdie jaar beplan ons vir 14 feeste. Die publiek kan uitsien na die Steve Doen Steve-konsert, Mampoerfees, Erfenisfees, Gelofteweek-feesvieringe, Glimlagfees, Jopie-fees en nog baie,” vertel Maree.

Geloftedag het gegroei van 10 000 mense in 2021 tot meer as 30 000 mense wat dié dag in 2023 by die Voortrekkermonument herdenk het.

Die Voortrekkermonument het in drie jaar ook drie nuwe ambassadeurs bygekry, Dricus du Plessis, Adam Tas en Marcell Coetzee.

Verskeie internasionale groepe besoek die monument daagliks, maar die fokus het geskuif om ’n kultuuraanbod vir ons plaaslike mark te bied, dit is immers ons plaaslike mense se stories wat vertel word.

Daarom word binnekort vir skole ’n splinternuwe interaktiewe uitstalling in die Pioniersentrum geopen. Dié uitstalling handel oor die vestigingsjare na die Groot Trek tot en met die Anglo-Boereoorlog.

“Elkeen van ons het ’n doel om te bou in die gemeenskap. Ons moet hierdie boodskap ook aan die jeug kan oordra, daarom wys ons hulle hoe ons voorouers gebou het, en leer ons hulle hoe hulle gemeenskappe gegroei het,” sê Lizette Jansen, bestuurder van die Erfenisstigting.

Wat vir Theron uitstaan van die Voortrekkermonument se projekte, is die nuwe ervaring wat besoekers kan beleef. “Die geskiedenis word lewend gemaak. Die ervaring het geskuif van ‘besoek’ na ‘beleef’. Erfenispret, kultuurkos, die markplein, die museumteater – dit is alles voorbeelde van dinge wat beleef word,” sê Theron.

Die Voortrekkermonument wil vir elkeen van ons vriende se ondersteuning opreg dankie sê. Julle bydrae is deel van ons suksesstorie en dit wat vir ons nageslag agtergelaat word. Elkeen se bydrae dra by tot die groter geheel: www.vtm.org.za/donasies/.

 

Projekte en ontwikkelinge wat die Voortrekkermonument sedert 2021 suksesvol uitgevoer het:

2021

Skool op Wiele Restaurant open en ablusie word hier opgerig.

Lewende Laer open.

Historiese Trekroetetuin word opgeknap en weer bekendgestel.

Nagtoere word vir die eerste maal aangebied.

Skole- en vakansieprogramaanbod word in werking gestel.

Ambassadeursprojek word geloods.

Al die Voortrekkermonument se fasiliteite is opgeknap vir verhurings.

Presidente en Premiers-uitstalling by die Erfenisstigting word aangebied.

Aardklop word vir die eerste keer by die Voortrekkermonument aangebied.

Historiese Fakkelloop van Fort Schanskop na Monument.

Die Erfenisstigting val onder die bestuur van die Voortrekkermonument en die VTM neem daarmee saam verantwoordelikheid vir 13 erfenisterreine, onder andere die Bloedrivier-erfenisterrein.

 

2022

Vrijheidsreis-uitstalling word geopen.

Pro Patria Museum word by die monument geopen.

Die Plaaswerf kry sy eerste diere.

Gelofteweek-feesvieringe word vir die eerste maal aangebied.

Stokkiesdraai-lapa is aangebou en word uitverhuur.

Perde word aan monument geskenk deur Mooikrans Opleiding Instituut en perderitte word weer aangebied.

Noord-Transvaal Modeltreinklub skuif uitstalling vir die eerste keer na monument, 74 jaar na sy stigting.

Ossewabrandwag se uitstalling by die Erfenissentrum open vir die publiek.

Erfenispret-speletjie word vir die jeug bekendgestel.

Gelofte-musiekblyspel is geskryf en vir die eerste maal opgevoer.

12 Pierneef-skilderye word deur Sonop Christelike Tehuis op bruikleen geskenk vir uitstalling by die Erfenisstigting.

 

2023

Die Voortrekkermonument kry sy eerste markplein en ’n fontein is aangebou.

Die eerste museumteater open in Suid-Afrika by die VTM.

Transvaal Voortrekkermuseum open.

’n Plaasdam word vir die kinders aangebou.

Nuwe digitale skerms word op terrein opgestel.

Uitbreiding van sekuriteit met opgeleide honde.

Ontvangs skuif na die Pioniersentrum en ’n nuwe parkeerterrein word gelê.

Jukskeibane word aangelê vir die jeug.

 

2024

Die Troostuin word onthul.

Staproetes en natuurtoere is oop vir die publiek.

Medisinale tuin is aangeplant.

Oppi Markplein Familienaweek word geloods en word een keer per maand aangebied.

Die bekende parkrun keer terug na die monument.

Die nuwe uitstalling in die Pioniersentrum open binnekort.

’n Splinternuwe Deli gaan die jaar geopen word.