Die gelukkige besoekers wat hulle om 10:30 in die Heldesaal van die Voortrekkermonument bevind het, is aangenaam verras met ’n spesiale toer en opvoering.
Op Wêreldmonumentedag, 18 April 2024, het die Voortrekkermonument ’n spesiale toer deur die Heldesaal gereël met ’n verrassingsvertoning van ’n toneel uit die Gelofteblyspel.
Dié hartroerende toneel is opgevoer deur die museumteateraktrise Karla Hoogendoorn en handel oor die Bloukransmoorde.
Petré Theron, adjunkhoof van die Voortrekkermonument, sê dit is goed om te sien hoe geskiedenis “lewend gemaak” word in die monument. “Ons toeriste besoek nie net die monument nie, maar hulle beleef die geskiedenis en dit is ’n wonderlike nuwe inisiatief wat ons verder wil uitbou.”
Charles Rademeyer, kultuurkoördineerder van die FAK, het die toer aangebied.
“Ek dink wat hierdie toere goed maak, is dat die persone in die geskiedenis ‘lewend’ word. Dit maak dit soveel meer geloofwaardig. ’n Mens besef na so toer hoe groot die impak is wat hierdie gebeure op die lewe van vandag het. Die doen en late van hierdie persone het ons gemaak wie ons vandag is,” sê Rademeyer.
Die besoekers het die toer en opvoering terdeë geniet en gereflekteer oor wat die Voortrekkermonument vir hulle beteken.
“Vir my as Christenvrou is die monument ’n baken van my geloof,” sê Esté Cilliers.
“Wat vir my uitgestaan het van die toer vandag, is hoe die vroue sterk gestaan het en die mans ondersteun het toe hulle wou moed opgee. Die monument is vir my belangrik, want ek wil hierdie boodskappe vir my kinders eendag wys,” sê Lieandri Ackermann.
“Veral op ’n dag soos vandag is dit belangrik om bietjie stil te staan en die wonder van ons erfenis om ons te waardeer. Hierdie toer het ons ’n rede gegee en gebied om weer herinner te word aan waar ons vandaan kom, en aan die mense wat die grondslag gelê het wat uiteindelik gelei het tot hierdie pragtige monumente en erfenisterreine wat ons vandag het. Dit is deur die heldedade van hierdie mense dat ons nie net vandag hier kan bestaan nie, maar werklik voluit in ons kultuur kan voortleef,” vertel Barry Müller.
Dit is vir die Voortrekkermonument ’n voorreg om ons erfenis op moderne en nuwe maniere te vertel. Jou vriendskap kan ons help om ons erfenis te bewaar: www.vtm.org.za/donasies/