Op Wêreldteaterdag, 27 Maart 2024, wil die Voortrekkermonument hulde bring aan die argitek Johan Els wat in sy loopbaan ’n groot rol gespeel het in die uitbou van die terrein.
Els se projekte by die Voortrekkermonument was onder meer die Fort Schanskop Amfiteater, inrig van die hysbak in die monument (2007), die ontwerp en bou van die Kiosk en Ablusiefasiliteite (nou Uitspan-restaurant) (2008), Inligtingsgebou (2009), die Erfenissentrum (2014) en die Pioniersentrum (2016-2017). Hy het ook die Viscount Gedenkmuur asook meer onlangs die SA Weermag Muur van Herinnering ontwerp.
Die Fort Schanskop Amfiteater en die Erfenisstigting waarin die museumteater nou gevestig is, speel ’n groot rol in die moderne teateraanbod wat die monument nou bied.
Liana Els-Bull, dogter van Johan Els, sê haar pa se nalatenskap is vir haar baie spesiaal. “My pa het so baie van sy lewe gegee vir ons kultuur en ook openbare werke. Dit is sy nalatenskap vir sy kinders en kleinkinders.”
“My pa het Donderdag 21 Maart sy 80ste verjaarsdag gevier. Die firma wat hy saam met Karre Maree in 1974 begin het, MEG Argitekte (destyds Maree & Els Argitekte) vier hierdie jaar hul 50ste bestaansjaar,” vertel Els-Bull.
Els-Bull sê dat haar pa se werk hul gesin baie inspireer en dat sy die voorreg gehad het om saam met hom aan ’n paar projekte te werk.
“My pa tree af in 2018 op die ouderdom van 74 … Van ons vier kinders het ek in my pa se voetspore gevolg en my susters, Francene Bekker (grafiese ontwerper) & Joleen Buys (interieur-argitek) werk al drie saam in ons firma Design Trilogy. Ons broer Andries Els woon in Nieu-Zeeland en is ’n meganiese ingenieur. My ouers het 12 kleinkinders,” vertel Els-Bull.
Die projekte wat Els vir die Departement van Openbare Werke voltooi het, sluit in die nuwe onderwyskollege vir die Groenkloof-kampus (1976), die Polisiemonument by die Uniegebou (1983) en die Nasionale Suiwel Korporasie-hoofkantoor in Randburg (nou die Abbott Laboratories-gebou) (1985); hy het die Departement van Openbare se hoofkantoor in 2004 opgeknap.
Die Els-familie bly ver van mekaar, maar het in Januarie die monument saam besoek om vir hul kinders die nalatenskap te wys wat hul oupa vir hulle gelaat het.
Die Voortrekkermonument wil Johan Els baie geluk wens met sy 80ste verjaarsdag. Dit is ’n voorreg om iemand wat diep spore getrap het by die Voortrekkermonument en in Pretoria te kan vereer.
Sonder Els se werk sou die Voortrekkermonument beslis nie ’n tuiste kon skep vir soveel vertonings wat op die terrein opgevoer word nie. Die teaters by die Voortrekkermonument sluit in die Museumteater in die Erfenissentrum, die Fort Schanskop Amfiteater, die hoof Amfiteater en die Heldesaal en Senotaafsaal in die monument self, waar vele klassieke uitvoerings al gegee is.