Bykans 200 volwassenes en kinders het gisteraand op die Voortrekkermonument se terrein neergesak ten bate van ’n goeie doel.

Die “Superhero Run” het fondse ingesamel vir mense met gestremdhede.

Xandri Barkhuizen is net 17 jaar oud, maar maak reeds ’n reuse-impak om mense te kan help.

Barkhuizen is ’n gr. 11-leerder van die Hoërskool Centurion en het die Voortrekkermonument gekontak om te hoor of sy die terrein kan gebruik vir ’n “Superhero Run” wat sy reël om fondse in te samel vir mense met gestremdhede.

“Ek wou ’n tema kies waarby almal kan identifiseer. Die mense met gestremdhede is ook superhero’s. Hulle het ook hulle plekkie in die wêreld en hulle kan ook ander mense help. As dit nie vir mense met gestremdhede was nie, het ek dalk nie my roeping gevind nie,” sê Barkhuizen.

Die fondse wat Barkhuizen insamel, gaan na Woodside Special Care Centre wat bykans 90 inwoners met spesiale behoeftes huisves.

Jonk en oud, het met mantels en superhelde-kostuums, by die Voortrekkermonument opgedaag om Barkhuizen se saak te ondersteun.

“My peetboetie het special needs, so ek het ’n liefde vir kinders met gestremdhede,” vertel Barkhuizen.

Barkhuizen is self ’n landloopatleet en beoog om aan die Two Oceans-wedloop deel te neem. Tydens haar inskrywing het sy gesien sy kan vir ’n liefdadigheidsorganisasie hardloop en dit is hoe sy by Woodside uitgekom het.

“Ek het ’n maand terug Kaap toe gevlieg en vir hulle (Woodside) gaan kuier. Ek kom toe agter hulle het fondse nodig en die staat help nie regtig nie. Toe het ek besluit om geld vir hulle in te samel vir klein goedjies waaraan mens nie dink nie,” sê Barkhuizen.

Barkhuizen het op die stadium R11 000 ingesamel met haar Superhero Run. Haar doel is om die jaar R30 000 in te samel.

“Ek beplan om elke jaar minstens een Superhero Run te hou. Ek is graad elf en ek moet fokus op my studies, daarom kan ek nie nou meer hou nie. Ek probeer die een wat ek hou so groot as moontlik te kry. Ek wil graag elke jaar ’n groot bedrag skenk.”

Hoekom by die Voortrekkermonument?

“Die Voortrekkermonumentterrein is beeldskoon en dit is so vriendelik hier. Ek wil ’n plek kies waar mense welkom voel. Die Voortrekkermonument is baie bereid om te help.”

Barkhuizen neem ook elke Saterdag deel aan die parkrun by die Voortrekkermonument. “As ’n landloopatleet hou ek baie van op- en afdraandes en die Voortrekkermonument het die perfekte roete.”

Barkhuizen wil arbeidsterapie gaan studeer om met gestremde kinders te werk en so ook verder ’n verskil te maak.

As jy Xandri wil help om Woodside se saak te ondersteun, besoek gerus hul webwerf om ’n skenking te maak: https://www.woodside.org.za/.