Waar sal ’n mens ’n Mercedes Benz-eienaar en ’n Ferarri-eienaar op dieselfde plek kry? By die Voortrekkermonument! Die kultuurtuiste het die afgelope naweek geleer dat die Voortrekkermonumentterrein ook ’n kultuurtuiste vir eienaars van spogmotors is.
Die Mercedes Benz-klub het Sondag 17 Maart 2024 by die Voortrekkermonument byeengekom met hul spogmotors vir hul maandelikse uitstappie. Dit is die tweede klub wat die monument die jaar besoek, na die Ferarri-klub se besoek in Februarie.
“Die Voortrekkermonument is deel van ons erfenis, net soos Mercedes Benz ook deel is van die erfenis van Suid-Afrika,” sê Johan Krogh, voorsitter noordelike streek van die Mercedes Benz-klub in Suid-Afrika.
Net soos die Ferarri-klub, kom die Mercedes Benz-klub een keer ’n maand bymekaar sodat die voertuie kan ry en om die klublede die geleentheid te gee om saam te kuier. “Die Voortrekkermonument is die ideale bymekaarkomplek vir mense om saam te kuier, iets te eet of te drink en die dag te geniet, daarom het ons besluit om by die Voortrekkermonument saam te kom,” sê Krogh.
Vanjaar vier Mercedes Benz die 40ste herdenking van die 124-reeks wat in 1984 vervaardig is. Daar is 33 voertuie en 90 mense wat aan die klub behoort. Die 1958-Ponton is die oudste voertuig en die GLE 350 is die nuutste model-voertuig in die klub.
“Die klub bepaal nie dat ’n kar ’n spesifieke ouderdom moet wees nie. Enige persoon wat ’n Mercedes Benz besit of ’n passie het vir Mercedes Benz kan deel wees van die klub. Daarom het ons baie ou en nuwe voertuie en ook diverse lede,” vertel Krogh.
“Die spesiaalste ding van die klub is, ons is almal een Mercedes Benz-familie en dis die samesyn waaroor dit gaan. ’n Mens maak nuwe vriende.”
Jou vriendskap kan die Voortrekkermonument help om jou erfenis te beskerm, sluit hier aan: www.vtm.org.za/donasies/