Jurgens Johannes Stolz was as kind by die inhuldig van die Voortrekkermonument en nou het hy twee kosbare skenkings aan die Erfenisstigting by die Voortrekkermonument gemaak.
Stolz en sy seun, Willie Stolz, het op 21 en 22 Februarie die monument, ons baken van hoop, besoek om ’n riempiesbank wat uit die Anglo-Boereoorlog-tydperk dateer, asook ’n dooprok, aan die Erfenisstigting te skenk.
Stolz vertel dat ’n berig oor die skenking van ’n Voortrekkerkappie wat hy vroeër gelees het (lees die storie hier), hom laat besluit het om ook sy skenkings te maak.
“Die artikel het die gedagte na die dooprokkie geneem van dieselfde era wat moontlik van waarde vir die Erfenisstigting kan wees. Na gesprek met Petra oor ander oudhede van belang wat in ons besit is, het die rimpeleffek uitgebrei om die geelhoutbank ook te skenk,” vertel Willie.
Die dooprokkie wat die Stolze geskenk het, dateer ook uit die Anglo-Boereoorlog-tydperk.
“My Ouma Margarieta Elizabeth Jordaan (nooi Burger) is op 11 Februarie 1900 gebore en sy is in die rokkie gedoop. Volgens haar was dit haar moeder se dooprokkie, ook Margarieta Elizabeth Burger (geboortedatum onbekend). Sy is redelik vroeg oorlede, moontlike te wyte aan haar omstandighede in die Irene-konsentrasiekamp. Die dooprokkie is volgens oorlewering gemaak deur haar baie ouer suster, Alida (Alie) Burger,” vertel Willie verder.
Dié kosbare riempiesbank is in 1863 in die Carolina-distrik met ’n knipmes en ’n sekel aanmekaar getimmer.
“Tydens die verskroeideaardebeleid het my pa se oupagrootjie die bank langs die Komatierivier by ’n krans laat afsak in ’n digte bos sodat die Engelse nie die bank kon kry nie,” vertel Jurgens.
Na die oorlog is die bank weer herwin en het in die geslagte weer herleef.
“Die riempies was verrot toe hulle hom gekry het,” sê Jurgens, “maar dis ’n wonderwerk dat die termiete hom nie geëet het nie.”
Willie en Jurgens het besluit om hierdie kosbare skenkings aan die Voortrekkermonument te maak, omdat hulle familie oorsee bly en daar nie kinders is om die erfenisitems verder te bewaar nie.
“Ons wou boonop nog altyd ’n skenking aan die Voortrekkermonument maak,” sê Stolz.
Die Voortrekkermonument is dankbaar vir enige kosbare erfenisitems uit die Groot Trek- of Anglo-Boereoorlog-tydperk. As jy graag ’n skenking wil maak, kontak gerus Lizette Jansen (lizette@kultuurtuiste.org.za).