“Dit is ’n wonderlike voorreg om ’n plek te hê waar ons kinders tuis kan voel.” So sê Esté Cilliers, skoleprojekbeampte by die Pioniersentrum.
Talle laerskoolkinders het die afgelope Maartvakansie gekies om aan die Voortrekkermonument se vakansieprogram deel te neem, eerder as om tuis te wees.
Dít is beslis ’n intelligente besluit van die jongelinge, want hier het hulle die kans gekry om hande vuil te maak en leer-speel aan tradisionele aktiwiteite deelgeneem.
“‘Ma! Ek is verveeld.’ Dit is seker die woorde wat ouers die meeste hoor tydens die vakansietyd. En soms weet ouers nie waarheen om met die kinders te gaan terwyl hulle steeds werk nie. Die Pioniersentrum se vakansieprogram bied in vakansies gesonde Afrikanerpret aan vir kinders tussen die ouderdom van vier en 17 jaar. Selfs matrieks kan saamkuier as hulle wil,” sê Cilliers.
Een aktiwiteit per dag is van die 22ste tot die 28ste Maart tussen 10:00 en 12:00 aangebied.
“Ons het stokbrood gebraai in die pionierskombuis, geleer sweepslaan, geleer van diere. Perdgery, die diere gevoer, kleiosse gemaak en alles net met gesonde Afrikanerpret. Ons het appels uit meel gegrou met ons monde, eiergeloop en kettie geskiet. Dit is alles dinge wat kinders leer wat hulle by die huis saam met maats weer kan doen,” sê Cilliers.
Die aktiwiteite is vir die kinders opwindend en gee hulle die kans om hul hande vuil te maak en in die natuur te kom.
“Dit is my heel eerste keer by die monument en ek geniet dit baie. Ek wil definitief weer terugkom en my familie bring,” sê Pieter Louw (11).
“Dit is baie lekker hier by die monument. Ek en my gesin kom elke jaar op die 16de (Desember). As ek weer kom, wil ek graag perdry,” sê Amor Prins (12).
Om met die eier te loop tydens die Boeresportdag, is Klara Botha (7) se gunstelingspeletjie. “Boeresport is een van die prettigste goed,” sê sy.
“Dit is baie lekker hier by die monument. Ek hou die meeste daarvan om tou te trek,” vertel Kai van Heerden (10).
Dit is vir die Voortrekkermonument ’n voorreg om soveel jongelinge hier te ontvang en hul speel-speel van hul erfenis te leer. Die vakansieprogramme se aktiwiteite word ook gedurende die kwartaal vir skoolgroepe aangebied wat die monument besoek. As jy jou kind of klas wil inskryf, stuur gerus ’n e-pos aan besprekings@kultuurtuiste.org.za.