Mediaverklaring

2 November 2023

Klein Etzebeth by die Voortrekkermonument te sien

In Oktober, wêreldbekermaand, het die Voortrekkermonument ’n splinternuwe babadwergbokkie in die wêreld verwelkom. Na vele dinkSKRUMS was die bokkie steeds naamloos, maar nie meer nie!

Dié kleinding is ná die Springbokke se ikoniese wen teen Nieu-Seeland op 28 Oktober na die rugbyheld Eben Etzebeth vernoem. Hierdie vernoeming is veral gepas, nadat Eben se vrou, Anlia Etzebeth, aangekondig het dat daar ’n klein Etzebeth op pad is.

“Die Voortrekkermonument ondersteun die Springbokke met trots en daarom het ons besluit dat klein Eben sy eie nommer 4-truitjie moet kry,” sê Michael Barnard, plaasbestuurder by die Voortrekkermonument.

Dit is kostelik om die bokkie in sy Springboktrui te sien rondhardloop en speel.

“Ons nooi ook die Springbokke uit om die monument en plaaswerf te besoek. Dit sal ’n groot voorreg wees om julle hier te hê en vir klein Eben self te ontmoet,” sê Barnard.

Die Voortrekkermonument deel ook in Anlia en Eben se vreugde en ons nooi die klein Etzebeth uit om by die Voortrekkermonument te kom kuier – sy eerste maatjie wag immers vir hom!