Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Kultuurtuiste – wat die FAK, Voortrekkermonument en die Erfenisstigting insluit – is Donderdagaand op ’n glansgeleentheid by Foxwood House in Johannesburg deur die Afrikanerbond (AB) vir sy uitnemende leierskap vereer.
Langner is die eerste ontvanger van die AB se Afrikaner Uitnemendheid-toekenning. Met dié toekenning word erkenning aan individue gegee wat deur hul waardes, leierskap en toewyding Afrikanerbelange met voortreflikheid bevorder.
Volgens die AB is Langner se leierskap en jarelange betrokkenheid by die viering van Afrikanerprestasie en -identiteit, behoud van kulturele erfenis, en die bevordering van ’n trotse en toekomsgerigte gemeenskap ’n toonbeeld van uitnemendheid.
“Dr. Langner het oor verskeie velde heen ‘n monumentale bydrae gelewer tot die bewaring van Afrikaner-kultuurerfenis,” sê Karel Tredoux, dagbestuurslid van die AB. “In ‘n tyd waarin globalisering en vinnige maatskaplike verandering ‘n bedreiging vir kulturele waardes inhou, staan dr. Langner uit as ‘n baken vir Afrikaner-identiteit, ‘n skans vir sy taal, kultuur en geskiedenis.”
Langner het oor dekades heen ’n grensverskuiwende bydrae gelewer tot verskeie kultuur- en erfenisinisiatiewe, insluitend die NG Kerk, Solidariteit Helpende Hand, Die Voortrekkers en die Kultuurtuiste-instellings, en onderskei hom veral deur sy intellektuele bydraes tot die gesprek oor identiteit, geskiedenis en die rol van Afrikaners in die hedendaagse Suid-Afrika. Benewens verskeie gesaghebbende publikasies uit sy pen, sluit sy werk ook die bemagtiging van jong Afrikaners en die bevordering van gemeenskapsbetrokkenheid in.
“Ek is opreg dankbaar oor die eerbewys,” het Langner gesê, en beklemtoon dat kultuur nie net oor die verlede gaan nie, maar oor die verantwoordelikheid om ’n toekoms te bou.
“Kultuur is ’n lewende krag. Geskiedenis is ’n ontvouende verhaal. Dit is nie net iets wat ons erf nie, maar iets wat ons elke dag moet lééf en aktief bou. Wanneer ’n gemeenskap sy geskiedenis ken en sy waardes met ’n roepingsgedrewendheid opneem, skep dit kulturele selfvertroue om ’n hoopvolle toekoms te bou.”
Volgens hom stap die bewaring van erfenis en die ontwikkeling van nuwe idees hand aan hand.
“Ons kan nie net terugkyk nie. Ons moet vorentoe dink. Die uitdaging vir Afrikaners is om ons kultuur só te leef dat dit ’n bron van inspirasie, kreatiwiteit en diens aan die breër samelewing is.”
Die Afrikanerbond het tydens dieselfde geleentheid ook verskeie Brugbouer-toekennings oorhandig aan individue wat deur hul werk tot groter begrip en samewerking tussen Suid-Afrikaanse gemeenskappe bydra.
Ontvangers van die Brugbouer-toekennings sluit in dr. Matthews Phosa, sakeman en voormalige premier van Mpumalanga; Springbokafrigter Rassie Erasmus; dr. Angelique Coetzee, wat oor meer as drie dekades ’n belangrike rol gespeel het in gesondheidsorg en openbare gesondheidskommunikasie; die komediant, sanger en rolprentmaker Leon Schuster; asook die joernalis en aanbieder Lourensa Eckard.
“Die toekenningsgeleentheid is ’n herinnering én wekroep dat die toekoms gebou word deur mense wat bereid is om met integriteit, visie en geloof op te tree. Die Kultuurtuiste wens al die ontvangers geluk en sien hierdie erkenning as ’n inspirasie vir almal wat werk aan die bevordering van kultuur, dialoog en gemeenskapsbou in Suid-Afrika,” het Langner gesê.