Die Mampoerkultuurstokersgilde van Suid-Afrika, die enigste geakkrediteerde mampoergilde in die land, se ketels gorrel en gons, want die jaarlikse Mampoerfees is om die draai. Dié gewilde fees by die Voortrekkermonument, wat jaarliks deur duisende mense besoek word, vind op Saterdag 6 Junie plaas.
Die Gilde beywer hom reeds sedert 1983 om die koperketelstookpraktyk, wat in die 1600’s in Suid-Afrika vlamgevat het, lewend te hou en aan ’n nuwe geslag oor te dra. Dié trotse deel van Suid-Afrika se kultuurerfenis word tydens die Mampoerfees behoorlik gevier met tradisie, familiepret, demonstrasies en natuurlik sopies propvol skop.
Die Mampoerkultuurstokersgilde is die enigste organisasie in die land wat amptelike keurings-, verifiërings- en kontroleprosesse vir plaaslik gestookte trofeedrank aanbied, en is ook die enigste wettige instansie wat ’n nasionale mampoerkampioenskap mag aanbied. Die nasionale tuisdrankstookkampioenskap vind die Woensdag en Donderdag voor die fees, ook by die Voortrekkermonument, plaas.
Sopies wat die toets slaag
Volgens Pieter van der Berg, president van die Mampoerstokersgilde, sal die nagenoeg 140 lede van die Gilde na verwagting 650 bottels in 34 klasse inskryf. “Ons beoordeel nie net mampoer nie, maar ook jenewer (gin), whiskey, rum en brandewyn. ’n Gespesialiseerde beoordelaarspan onder leiding van dr. Loftie Ellis van Stellenbosch, met meer as 40 jaar ervaring in die wynbedryf, sal die land se bobaasstokers aanwys,” sê Van der Berg.
“Elke produk wat tydens die Mampoerfees verkoop word, moet eers ’n streng keuringsproses slaag – die enigste formele stelsel van sy soort in Suid-Afrika,” sê hy. “Dié gehaltebeheer maak die Gilde se werk uniek en geloofwaardig.”
Van der Berg waarsku teen groepe wat ander soortgelyke feeste aanbied. “Nie almal dra enersyds die trots, tradisie en kultuurerfenis op die hart nie, en andersyds is die geleentheid by die Voortrekkermonument die enigste amptelik erkende stokerskampioenskap van sy soort in die land.”
Veiling vol verrassings
Ná die prysuitdeling die Saterdagmiddag volg die gewilde Amahewu-veiling. Hier word die klaswenners, unieke en skaars bottels, en gesogte aandenkings aan die hoogste bieër volgens die tradisionele “vat of los”-beginsel verkoop.
Van der Berg, self ’n bekende en ywerige stoker van Mookgophong (Naboomspruit), sê daar wag ook ’n paar lekker verrassings. “Amahewu is die Zoeloe-woord vir sterk drank. Dit is ’n tradisie wat die publiek na aan die hart lê – en vanjaar gaan dit groter as ooit wees.”
Hy vertel trots dat hy reeds vir agt jaar die beste perskemampoer stook en vertel dat geel, uitvoergehalte-nektarines sy geheime wapen is.
Stories in ’n bottel
Volgens dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Kultuurtuiste, is dit ’n groot voorreg om jaarliks die Mampoerkultuurstokersgilde by die Monument te ontvang en ’n bydrae te kan lewer om dié deel van die Suid-Afrikaanse kulinêre kultuur lewend te hou.
“Net soos ’n skilder of skrywer aan sy vaardighede slyp, net so woeker die lede van die Gilde om trots en tradisie te verfyn en te laat voortleef – hetsy deur die aanbied van kursusse, of resepte en geheime van geslag tot geslag oor te dra.
“Eindelik vertel elke bottel ’n storie, net soos die stories wat by die Kultuurtuiste voortleef. Die Voortrekkermonument is immers dié plek waar gesinne en die gemeenskap kan leer, lag, kuier én bewaar,” sê Langner.
Iets vir oud en jonk
Vir dié wat skrikkerig is om dié vrugtige voggies met skop op die proef te stel, wag daar hope ander vermaak tydens die Mampoerfees. Dit sluit in tradisionele boereorkeste en volksdanse; kos- en snuffelstalletjies; veteraanmotors; demonstrasies; erfenisuitstallings; gesprekke met ervare stokers; en natuurlik die geleentheid om ’n bekroonde mampoerproduk te koop.
· Kry jou kaartjie vir die Mampoerfees sommer vandag nog. Toegang vir volwassenes is R80, terwyl pensioenarisse R60 en kinders onder 13 jaar R30 betaal. Toegang vir kinders onder 13 is gratis. Klik hier om te bespreek.

