Die Voortrekkermonument is die plek waar jy jou nuwejaarsvoornemens kan verwesenlik.

Die Voortrekkermonument verwelkom die Parkrun-gemeenskap vanjaar weer met ope arms. Saterdag 20 Januarie het mense in hulle massas by die monument opgedaag en veters vasgetrek om in die vars natuurlug te kom draf.

“Die Voortrekkermonument is ’n plek waar ons wil hê die gemeenskap bymekaar moet kom, waar gesinne en families kom kuier. Parkrun is deel van hierdie gemeenskap,” sê Henk Maree, bedryfshoof van die Voortrekkermonument.

“Die hoeveelheid mense wat Saterdae by die Voortrekkermonument opdaag om te kom draf, wys net dat die monument een van die top Parkrun-venues is,” sê Maree.

Maree wil mense aanmoedig om hul gesinne en families te bring om saam te kom hardloop. “Ons restaurante is in daardie tyd oop en mense kan nou by ons splinternuwe markplein rus en kuier.”

Die deelnemers spring om 08:00 voor die monument weg, hardloop om Suikerbosrand, op na Fort Schanskop en eindig dan weer by die Fontein voor die Voortrekkermonument.

“Hierdie Parkrun is die beste een, ons wil nêrens anders kom draf nie. Hier is ruimte en natuur – dit is net die beste Parkrun,” sê Ivette van der Watt wat Saterdag kom draf het.

Kayla van der Merwe en haar drie sussies het besluit om elke keer ook by die Voortrekkermonument te kom oefen. “Ons wil fiksword en oefen, en die baie op- en afdraandes hier by die monument in die natuur is ’n lekker plek om dit te doen.”

Pieter du Preez en sy gesin het by vriende gehoor van die Parkrun by die Voortrekkermonument en het besluit dit sal ’n lekker gesinsuitstappie wees om die roete te kom stap.

Die Voortrekkermonument is dankbaar om soveel mense op die terrein te ontvang en ’n tuiste te skep waar mense welkom voel. Sluit aan as ’n vriend van die Voortrekkermonument as hierdie plek ook jou tuiste is: https://vtm.org.za/donasies/