Die geur van vars vrugte, die klank van boeremusiek, en die gesellige gegons van gesinne wat saamkuier, het Saterdag 28 Junie op die Markplein by die Voortrekkermonument weerklink toe honderde feesgangers die winterkoue aangedurf het om die gewilde en vuurwarm Mampoerfees by te woon.

Gaste kon na hartelus beproe(f) – van stroopsoet likeur tot skop-in-die-maag mampoer – alles ter viering van ’n trotse plaaslike tradisie. En daar’s geen beter plek om kultuur in al sy fasette te vier as by die Voortrekkermonument nie.

Buiten die verskeidenheid van mampoer kon besoekers talle kos- en kultuurstalletjies besoek en ’n indrukwekkende uitstalling van ou trekkers, motors en enjins, boeredans, Volkspele en tradisionele boeremusiek geniet. Vir die jongspan was daar boeresport en prettige aktiwiteite, terwyl geskiedenisliefhebbers voordeel getrek het uit halfprysbesoeke van die Monument.

Mampoer het ’n besonderse plek in Suid-Afrika se erfenisskat, veral die noue verbintenis met die plattelandse Afrikanerleefstyl. Hierdie sterk vrugtesopie word reeds sedert die 1600’s in Suid-Afrika gestook, veral in streke waar boere oorvloedige vrugte-oeste op ’n kreatiewe manier moes benut.

Weens die streng verbod op tuisstokery tot die jare sestig, is hierdie sterk drank dikwels in die geheim gestook. Dit was ’n simbool van onafhanklikheid wat aanleiding gegee het tot ’n hele subkultuur van stokers wat hul eie resepte en tegnieke van geslag tot geslag oorgedra het.

In die moderne era het dié praktyk begin verander. In ’n poging om die kuns van stook te beskerm en bevorder, is die Mampoerkultuurstokersgilde (MKS) in 1982 deur passievolle stokers op die been gebring, wat hulself verbind het tot die behoud van tradisionele mampoerstookmetodes – binne die wetlike raamwerk, met ’n fokus op kwaliteit en kultuur.

Die MKS speel sedertdien ’n belangrike rol in die wettiging, standaardisering en bemarking van mampoer as ’n trotse Suid-Afrikaanse produk en bied opleiding, sertifisering en selfs kompetisies aan om uitnemendheid by stokers aan te vuur.

Alwyn Swart (79), voorsitter van die MKS wat ook by dié gilde se stigtingsvergadering in die jare tagtig was, het op ’n vrugteplaas in Groot Marico grootgeword en sy pa van kleintyd af gehelp om mampoer te stook.

“Die gilde is oorspronklik op die plaas Koperfontein in Groot Marico gestig – ’n streek wat met reg as die ‘wieg van mampoer’ bekendstaan,” vertel hy. “Die bekende skrywer Herman Charles Bosman, oudlandbou- en vervoerminister Hendrik Schoeman. en ’n paar ander bekendes was by die stigtingsvergadering.”

Swart het al 28 skilde en trofeë uit die 30 klasse gewen. Die enigste rede waarom die ander twee toekennings hom ontwyk, is omdat hy nie toegang tot druiwe het nie.

Hoewel daar verskeie splinterfeeste landwyd is, is die MKS vandag die enigste geakkrediteerde mampoerorganisasie wat ook ’n kampioenskap aanbied. Vanjaar het Pa en seun, WP en PH Marais, koning tydens die Mampoerfees by die Monument gekraai. Marijke Kleynhans is ook bekroon as die kampioen witblitsstoker.

Volgens Dawid Brand, bedryfshoof: beeld en groei van die Voortrekkermonument, is dit ’n groot eer om jaarliks die MKS se amptelike en grootste Mampoerfees by die Voortrekkermonument aan te bied.

“Wanneer ’n mens aan erfenisbewaring dink, vorm ons ryk kulinêre kultuur en tradisies ’n onlosmaaklike deel van ons verhaal. Mampoerstook het oor die jare in ’n fyn kuns ontwikkel. Elke stoker het ’n trots op die gehalte van sy of haar produk wat uit die koperketels vloei, en ’n mens kan die passie in elke bottel proe.

“Danksy die MKS het mampoer gegroei van ’n informele plaaspraktyk tot ’n gereguleerde en gerespekteerde ambag wat sy skoene met skop in die geskiedenis vol staan,” sê Brand.