Die Voortrekkermonument (VTM) is in 1936 deur die argitek Gerard Moerdijk ontwerp.

87 jaar later het FC Pelser, die kommunikasiebeampte van die VTM, gaan kers opsteek by sy kleindogter Sylva Francis om bietjie meer uit te vind oor dié merkwaardige man en hoe hy die majestueuse monument beplan het.

Francis, wat die jongste van ses kinders is, was maar 16 maande oud toe Moerdijk in 1958 oorlede is, tog vertel sy dat haar oupa se nalatenskap, en die verhale wat daarmee saamgaan, steeds baie oorvertel word in hul familie.

Gerard Leendert Pieter Moerdijk was getroud met Sylva Pirow, ’n formidabele vrou wat deur Francis beskryf word as ’n baie sterk, eiewyse Duitser. Sy was die suster van die politikus Oswald Pirow.

Een van hul seuns, Gerard Michel Tomby Moerdijk (Francis se pa) het getrou met Alida Holloway, ’n dogter van die ekonoom en diplomaat Jack Holloway en die kinderdigter Tienie Holloway (née Purchase). Uit Michel en Alida Moerdijk se huwelik is ses kinders gebore, van wie die skrywer Irma Joubert die oudste was.

Francis vertel dat haar oupa ’n regte kunstenaar was en iemand wat vreeslik baie inspirasie gevind het in die wêreld rondom hom, veral Nylstroom waar hul familieplaas geleë was en dit is hiér waar die verhaal van die Voortrekkermonument werklik begin.

“My Ouma het ons altyd tot vervelens toe vertel dat dit hier op Nylstroom is waar my oupa van sy idees vir die ontwerp van die monument gekry het – by die Kranskop-koppie op die familieplaas,” vertel Francis soos sy terugdink aan al die stories.

“‘Kyk daar’s Kranskop, dit is waar oupa van idees gekry het toe hy destyds met die donkiekar skool toe gery het en gereeld na daai koppie gestaar het’ sou sy vertel. Daar is natuurlik ook oorsese invloede in die argitektuur van die monument, maar Kranskop kan mens sê, is die monument se fondasie.”

Francis vertel dat dit op dié plaas is waar Moerdijk en sy vrou se grafte vandag nog is.

“Hulle grafte is vandag nog daar; reg langs die hoofpad by ‘De Nyl zijn oog’.”

“Ek is nie seker wanneer my oupa-hulle op die plaas gebly het, of hoe hulle aan die plaas gekom het nie, want oupa was in die konsentrasiekamp in Standerton en êrens daarna het hulle plaas toe getrek,” het sy vertel.

“Hy het daar sy familie help oorleef (hy was een van 9 kinders) toe hy werk gekry het by ’n slagter en in derms betaal is. Dit is hoe ouma hulle mae vol gehou het.”

Die ontwerp en bou van die Voortrekkermonument was een van die grootste gebeure in die Afrikaner se geskiedenis, daarom vertel Francis graag nog die “stories agter die storie” wanneer mense haar vandag vra.

“Die monument se geskiedenis is nogal sterk deurweef in ons eie familiegeskiedenis,” het sy gesê.

“My oupa het ’n hond gehad. Sy naam was Leo en dit is ook die hond wat mens vandag op die friese in die Heldesaal sien. Ek onthou dat my ouma altyd vertel het dat Louis Tregardt in sy dagboek geskryf het oor ’n hond wat ’n rietbok gevang het en dit het my oupa so beïndruk dat hy vir hom só ’n hond laat teel het en dit was ou Leo,” het sy uitgebrei.

“My pa wat ’n wetenskaplike was, moes toe vir my oupa so ’n hond teel.”

Die friespanele self het ’n baie interessante geskiedenis en baie mense wonder hoe dié indrukwekkende, swaar friese bo in die VTM geïnstalleer is.

“Die friese het in vreeslike swaar stukke hier aangekom uit Italië uit,” vertel Francis.

“Daar is toe besluit om ’n tydelike treinspoor teen Monumentkoppie op te rig om die friese bo in die monument te kry.”

Daar is volgens oorlewering ook baie van Moerdijk se idees wat nooit gerealiseer het nie, maar Francis vertel dat niemand werklik weet waarom dit so gebeur het nie.

“My oupa wou, volgens oorlewering, Piet Retief se oorskot binne-in die senotaaf laat sit, wat natuurlik sou beteken dat dit dan eerder ’n sarkofaag sou wees, maar niemand weet werklik wat die ware storie daar agter is nie,” het sy vertel.

“Hy wou ook baie graag Jan van Riebeeck se aankoms in die Kaap op ’n manier in die monument uitbeeld, maar dit het nooit gerealiseer nie. Daar is blykbaar ook planne wat dié uitbeeldings op het in die hoeke van die monument.”

Francis vertel dat sy jare laas sélf by die Voortrekkermonument was en hoop dat sy in die nabye toekoms hiér haar oupa se stories kan kom vertel.

Die Voortrekkermonument het verskeie interessanthede wat in en om die monument versteek is wat wag om ontdek te word. Kom maak ’n draai by die monument en vind uit wat in die hoeksteen van die monument is, hoeveel trappe daar is of hoe die oorspronklike friesmakette lyk.