Deur Dawid Brand
“Daar het varke in die nag gekom en die lyke stukkend gevreet,” skryf Dorothea Jones in die Klerksdorp-konsentrasiekamp. “Dit was niks anders as ’n moordkamp nie. Ek het gesien hoe 37 lyke in een nag na die lykshuis gaan,” skryf Judith C. Barnard op haar beurt oor die Kroonstad-kamp.
Op 16 Junie 1900, agt maande ná die uitbreking van die Anglo-Boereoorlog, met die Union Jack wapperend in die Boererepublieke se hoofstede, kom die uitvaardiging van proklamasie 5/1900 deur lord Roberts – die vonk in die kruitvat wat veld en vlees voor die voet tot vredesluiting in 1902 vernietig het. Verskroeideaardebeleid.
Slagveld het vlamveld geword; vroue, kinders en bejaardes in konsentrasiekampe gegooi waar honger, siekte en koue uiteindelik meer as 34 000 lewens tot hopies grond verinneweer. Meer as 30 000 plaasopstalle verwoes tot geskroeide geraamtes in die gras. In sommige gevalle is hele dorpe in puin gelê. Wolmaransstad, Bethal, Ermelo, Carolina, Reitz, Parys en Lindley.
Daar was ongeveer 45 konsentrasiekampe vir Boeregevangenes. Die bekendste kampe sluit in Bethulie, Brandfort, Bloemfontein, Kroonstad en Norvalspont in die Vrystaat; Howick en Merebank in Natal; Klerksdorp, Krugersdorp, Middelburg, Potchefstroom, Irene en Pietersburg in Transvaal; en Mafeking in die Kaapkolonie.
In 1900 was die verskroeide aarde van buite. Jy kon die vernietiging van veld en vrugtebome sien, die rookvlamme van plaasopstalle en verrotting van diere ruik, die verslae krete van vrou en kind hoor. Vandag – 125 jaar later – smeul ons wortels en waardes, ekonomie en erfenis, opnuut. Maar van binne af.
Verskroeide aarde vandag
Jongmense sukkel om te midde van subtiele identiteitstroping ’n selfgeldende stem van kulturele selfvertroue te vind. Blink geskenkpakkies – beloftes van “alles vir almal” – ontnugterend gevul met “niks vir niemand”. Soos die verhaal van die padda in die pot water.
Elke Afrikaanse skool waar ’n dubbel- of parallelmediumvlammetjie eers posvat, word in ’n oogwink ’n Engelstalige veldbrand wat eers Afrikaans uit die klaskamers en dan die moedertaalmonde wat haar praat, uit die omliggende gemeenskap smoor. Die getal Afrikaanse skole (nie enkelmediumskole nie, maar skole wat nog Afrikaans Huistaal aanbied) het sedert 2021 van 686 tot 543 skole gekrimp. Afrikaans-enkelmediumskole se syfer lyk veel droewiger op 274 (van die meer as 6 900 skole landwyd). Die Bela-wet trek boonop ’n swartbordstreep deur die bewese welslae van moedertaalonderrig vir verderestudie- en loopbaansukses.
Die pre-1994-onderhandelings vir meertaligheid en die mooi ideaal van 11 (gelyke) amptelike landstale is deur die 1996-Grondwet in wese vertroebel tot Engels-alleen. By die sewe staatsuniversiteite en talle tersiêre instellings waar Afrikaans gedy het, word die sogenaamde “taal van die onderdrukker” skaam-skaam in klein groepies gepraat deur ’n generasie wat in 1994 nog nie eens ’n gedagte was nie.
Brutale plaasaanvalle en -moorde word enersyds afgewater en andersyds aangevuur deur polariserende politici wat onbeskaamd Dubul’ ibhunu (Kill the Boer, Kill the Farmer) dreunsing. Die 2 800 name op die gedenkmuur by Nampo ’n stille getuigskrif. Die nagenoeg R200 miljoen se vee wat in die eerste drie maande van vanjaar geroof is, ’n boer van Limpopo wie se plaashuis afgebrand word, ’n woordlose dagboekinskrywing in ’n boer se hart wat in die grond op sy hande, die trane oor sy songekarteerde wange wegsmelt.
Onteiening bedreig bloedsweettraktaat. Ons eie (Engelse) media dek nie eers meer die wrede ontnugtering en ontworteling nie, maar beskuldig kampvegters van dié misdaad van buitelandse narratiefverdraaiing en kwaadstokery in die wandelgange van Washington.
Ons boer agteruit, blyk duidelik uit die Solidariteit Navorsingsinstituut en Vryemarkstigting se verslag oor die uitwerking van swart ekonomiese bemagtiging die afgelope drie dekades. Die verlies van nagenoeg vier miljoen werksgeleenthede en die inboet van 3% BBP-groei per jaar, is van die strukturele versmoringsperke wat meer belemmer as bemagtig.
Van aan die pen ry vir die plundering van die staatskas deur staatskaping is daar steeds nie sprake nie. Eens glorieryke infrastruktuur verskraal voortdurend. Slaggate drie keer meer as werkende straatligte. ’n Bakhandkultuur word aangevuur wat werksoekers met ’n slagofferjas klee, aalmoesafhanklik en arm. Swak dienslewering die maatstaf van menige munisipaliteit.
Grafte word deur moeti-jagters geskend, beendere opgegrawe en die as-oorskot in nisse deur dwelmslawe gerook. Plekke van treur en troos is te gevaarlik om jou geliefdes te groet. Erfenisbakens en historiese grond toenemend onder beleg van rampokkers wat die geskiedenis opnuut tot naamlose grafstene en hopies grond wil verskraal.
“Verslaan, maar onoorwonne,” lui die dagboekinskrywing van nog ’n konsentrasiekampoorlewende. Ooggetuieverslae soos dié uit die kampe, ruk ’n mens aan die bors en laat ’n mens met die onvermydelike vraag: Wat is die dagboekinskrywing van vandag wat my kinders in 2050 – 150 jaar ná die konsentrasiekampe – gaan lees?
Groeiende aarde van môre
“Everything can be taken from a man but one thing: the last of the human freedoms – to choose one’s attitude in any given set of circumstances, to choose one’s own way,” skryf die Oostenryker Viktor E. Frankl, ’n Nazi-konsentrasiekampoorlewende, in die bekende Man’s Search for Meaning.
Wat kies ons? Nie vir onsself nie, maar vir die volgende geslag?
Ons ontvouende vryheidsverhaal en ideaal is immers een van opstaan. Onoorwonne ondanks omstandighede. Kom ons kies om aktief aan ’n beter môre te bou. ’n Groeiende aarde waar die God van gister, vandag en môre rotsvas-sentraal staan. ’n Ruimte waar Afrikaanse skole, universiteite en tegniese kolleges op die kruispad tussen kultuur en kapitaal staanplek kry. ’n Selfdoeningesteldheid waarmee ons eienaarskap van ons eie erfenis neem. Vestig ’n kulturele selfvertroue waar die toekoms van ons taal en tradisies, wortels en waardes, nie in ander se hande lê nie, maar deur gemeenskapskrag aangevuur word.
Soos Frankl skryf: “Man does not simply exist but always decides what his existence will be, what he will become the next moment. By the same token, every human being has the freedom to change at any instant.”
Kom ons kies om toekomsbouers te wees. Om hoop in harte te skryf. Want ’n dagboek lieg nie.
- Dawid Brand is bedryfshoof: beeld en groei van die Voortrekkermonument.