Wat begin het as ’n eenvoudige poging om aan pensioenarisse ’n veilige plek vir ’n kultuurryke uitstappie te bied, het gegroei tot ’n oggend vol betekenis en herinnering. Elke Dinsdag word die Voortrekkermonument ’n ontmoetingsplek waar senior burgers nie net kom onthou nie, maar weer ervaar en deel word.
“Ons het aanvanklik gesoek na maniere om ouer persone te bereik met iets wat hulle sou geniet, maar wat ook sinvol is,” vertel Irene van der Merwe, projekbeampte van die Kultuurtuiste se Pensioenarisaanbod. “Vandag sien ons hoe hierdie oggende regtig lig bring in mense se week. Vir baie van hulle is die enigste keer wat hulle die huis of tehuis verlaat, en weer moed skep.”
Waar elke oggend sin het
Die oggende is doelbewus eenvoudig gestruktureer – met aankoms en ’n warm drankie, ’n boeiende erfenisgesprek oor temas wat dikwels ook persoonlik raak, ’n pouse vir rustige kuier, en dan ’n “gesels saam”-sessie waartydens gaste hul eie kreatiwiteit of herinneringe kan deel. Van plaasbrood- en konfytproe tot kunsnaaldwerk en familie-albums.
Christa Jansen, bestuurder van die Pioniersentrum, verduidelik: “Ons sien elke Dinsdag hoe mense weer begin lag en gesels. Die Pensioenarisklubdag is ’n plek waar herinneringe gedeel word, nuwe vriendskappe ontstaan en daar regtig gekuier kan word.”
Getuienisse wat welslae wys
Die terugvoer van besoekers is oorweldigend positief. Marie van Rietvallei NH Kerk sê: “’n Mens het meer as een dag nodig om alles behoorlik deur te gaan, alles is interessant.”
Dirk, van Mooigeleë-aftreeoord, het vertel dat dit vir hom besonders was om weer die Gelofte te beleef.
Hester, wat vier jaar gelede laas die Monument besoek het, was verras deur al die nuwe toevoegings en verbeteringe wat intussen aangebring is.
By ander klublede het die genealogiese afdeling van die Erfenisstigting se biblioteek ’n besonderse indruk gemaak. Die ontdekking van die Afrikaner se wortels en hoe gemeenskappe deur die dekades opgebou is, was ’n stille inspirasie.
En Louwna verwoord iets wat baie ander pensioenarisse voel: “Dis ondenkbaar wat die Voortrekkers moes deurmaak – en ongelooflik om te sien hoe hulle aanhou bou het.”
’n Groter visie
“Ons droom is om sinvolle kulturele ervarings te skep wat mense nie net inlig nie, maar geestelik vervul en emosioneel aanraak,” sê Dawid Brand, bedryfshoof: beeld en groei by die Kultuurtuiste. “Die pensioenarisdae is tekenend dat erfenis springlewendig is, nie net in die argiewe of monumente nie, maar in mense se lewens. Mense wat dié erfenis en geskiedenis aan ’n jonger geslag kan en wil oordra.”
Die Pensioenarisklubdag is ideaal vir individue of kleiner groepies. Teen slegs R50 per persoon kan gaste elke Dinsdag van 09:00 tot 12:00 ’n oggend van kultuur, koffie en kameraadskap geniet.
- Vir groter groepe (minimum 10) bied die Pensioenarisdag-ervaring ’n meer volledige uitstappie teen R90 per persoon aan. Dit sluit in:
’n Interaktiewe Museumteater-ervaring - ’n Begeleide toer deur die Monument
- Tradisionele broodbakdemonstrasie
- Varsgebakte brood met plaasbotter, kaas en konfyt, bedien saam met koffie
Albei aanbiedings sluit gratis toegang tot die Monument in, asook 20%-korting op middagete of boepensbroodjies by die pragtige Skool op Wiele-restaurant op die terrein. Die omgewing is volledig rolstoelvriendelik, en besoekers word hartlik verwelkom.
Besprekings
Bespreking is noodsaaklik. Kontak Irene van der Merwe by 071 330 7699 of stuur ’n e-pos na [email protected]




