Deur Marike Kilian
In ’n glansbehepte en prestasiebewuste wêreld snuffel ons dikwels vir leiding en inspirasie op sosiale media, luister potgooie of lees motiveringsboeke oor hoe om jou plek vandag as vrou vol te staan. Kort voor lank bevind jy jouself op ’n ongekarteerde verdwaalpad tussen feite en fiksie.
Ons loop egter selde terug in die voetspore van vroue in ons geskiedenis wie se wese onwankelbare waardes vergestalt, ver verwyderd van ’n verbeelde aanlyn realiteit waaraan so baie vasklou. Waardes soos vasberadenheid, verantwoordelikheid, geloof, gesonde oordeel, lojaliteit, onwrikbare dryfkrag. En die grootste van alles: die liefde. Een só ’n vrou wie se lewensverhaal my onlangs tot laatnag aan die lees gehad het, is dié van Jacoba Elizabeth Greeff, beter bekend as Nonnie de la Rey (1856-1923). Volksmoeder.
Dié boorling van Tulbach se verhaal is só besonders dat dit soos fiksie lees, maar die feite – haar karakter en dade – wys die enorme voorbeeld wat sy gestel en merkwaardige nalatenskapspore wat sy gelos het. Hoe meer ek lees, hoe meer leer ek wat dit verg om ’n nooi soos Nonnie te wees.
Veelkantige vroueleierskap
In die geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog was daar min vroue soos Nonnie de la Rey. Sy was die eggenote van die militêre leier generaal Koos de la Rey, ook bekend as die Leeu van die Wes-Transvaal, maar om haar tot dié kamee-rol te verskraal, sou háár brullende bydrae ernstig onderskat.
Haar lewe bied ’n insig in veelkantige vroueleierskap, spreek van betroubaarheid en diensbaarheid wat in moeilike tye nie net stand gehou het nie, maar aktief help opbou het. En dít te midde van omstandighede wat min van ons vandag te bowe sou kom.
Terwyl haar man met volksake en militêre strategie besig was, het sy die volle verantwoordelikheid vir huis én plaas gedra. Sy bou ’n dam, grawe putte, laat krale pak, plant en oes, en maak 12 kinders groot! Daarbenewens woon haar vier jonger boeties en sussies ook op die plaas, asook twee weeskinders wat Koos uit Pretoria saamgebring het.
Nonnie se vasberadenheid en lojaliteit aan haar mense tree veral tydens die oorlog op die voorgrond. Toe ’n Britse patrollie hul huis plunder, het Nonnie dit sonder huiwering gaan aanmeld. Haar eiendom sou beskerm word, mits sy haar weerhou van verdere hulp aan die Boerekommando’s, was die Britte se antwoord. Nonnie het egter voet by stuk gehou: As haar man of haar mense aan haar deur klop, sál sy hulle help met alles wat sy het. En as die Britse offisier kwaad is daaroor, kan hy sy troepe stuur om die res te kom vat.
Ondanks Nonnie se pleidooi, word die plaashuis kort hierna as deel van die verskroeideaardebeleid tot as verbrand. Sy en haar kinders vlug die veld in en vind gereeld nuwe skuilplek in die grasvelde om die wreedheid van die konsentrasiekampe vry te spring.

Vergifnis ’n werkwoord
’n Maand ná die brand hoor sy dat die offisier wat daarvoor verantwoordelik was, ernstig gewond is. Sy berei kos en medisyne voor, besoek hom persoonlik, en stuur ’n telegram aan sy vrou met nuus oor sy toestand. Hierdie gebaar, van iemand wat alles verloor het en verneder is, het ’n diep indruk gemaak en die geharde Britse offisier tot trane geroer.
Later het Nonnie saam met politieke leiers na Europa gereis om geld in te samel om haar verskroeide land uit die as te laat herrys. Met haar terugkeer het sy steen vir steen die De la Rey-opstal van die grond af opgebou.
Ek lees haar verhaal en wonder hoe dit moet voel om só seker van jou roeping te wees. Nonnie het nie getwyfel oor wie sy is of waarvoor sy leef nie. En selfs nou, meer as ’n eeu later, is dit relevant.
Geloof, geduld, gedrewendheid
Vroue van vandag leef in ’n ander tyd as sy. Maar ook een wat sy eiesoortige druk en uitdagings inhou. Baie vroue werk voltyds, is dalk ’n enkelouer en dra die volle verantwoordelikheid om die huishoudingwiele aan die rol te hou. Hulle lei vergaderings én sit snags langs kinders se siekbed. Pak kosblikke en skooltasse voor ligdag. Beplan verjaarsdagpartytjies, gee raad en dra dalk emosionele seer diep in hul hart verborge. Môre word al dieselfde balle opnuut met geloofsafhanklikheid in die lig gehou.
Miskien beteken vrouwees nie om alles te kan doen nie, maar om op te daag waar jy is, soos jy is, en dinge met opgerolde moue en gewillige hande aan te pak – soos Nonnie sou. Met geloof, geduld en gedrewendheid. Ek eer al die vroue wat haar gees vandag nog beliggaam. Of dit in die stad of op ’n plaas, in ’n raadsaal, hospitaal of klaskamer is. Daar’s ’n Nonnie in my en jou.

Marike Kilian (26) het ’n honneursgraad in korporatiewe kommunikasie en werk as kommunikasie- en
bemarkingsbeampte by die Voortrekkermonument.