Aan alle burgers van Transvaal en omliggende gebiede

Met groot vreugde en in die gees van gemeenskap nooi ek, pres. Paul Kruger, u amptelik uit om die 200ste herdenking van my geboortedag te vier, ’n grootse gebeurtenis wat slegs een keer in ’n leeftyd plaasvind. U teenwoordigheid by dié feestelike, gedenkwaardige makietie op die Voortrekkermonument-terrein in Pretoria word hoog op prys gestel.

Presidensiële Partytjie

Ingevolge ’n besluit deur die Presidensiële Feeskomitee word ’n herdenking van byna ses weke geproklameer: vanaf 1 September 2025 (Lentedag) tot 10 Oktober (my geboortedag). Die hoogtepunt van hierdie verrigtinge is die Presidensiële Partytjie op 24 September 2025 by die Voortrekkermonument. Dit beloof om ’n luisterryke dag te wees waar meer as 100 stalletjies, boeredanse en boeremusiek ’n atmosfeer gaan skep wat tegelyk statig én vrolik is. Betekenisvolle versnaperinge, soos Kruger-melkies, Kruger-koffie en Kruger-kolwyntjies, wat julle aan my gaan herinner, sal die fees ’n persoonlike atmosfeer gee. En moenie van die Kruger-knertsies vergeet nie!

“Ons het elke element van die partytjie fyn beplan om nie net die verlede uit te beeld nie, maar om dit ’n beleefervaring vir elke besoeker te maak,” vertel Mareli Bothma, voorsitter van die Presidensiële Feeskomitee.

“Dit gaan nie net oor ’n groot fees nie; dit gaan daaroor dat elke deel van die dag, selfs die kleinste besonderhede, iets van Kruger oordra en dat ons as gemeenskap hierdie nalatenskap saam beleef.”

Verrigtinge vir volwassenes

Die feesdag word volgens reglement met ’n ryk en ordelike program aangebied. Burgers met ’n van wat met die letter K begin of op 10 Oktober gebore is, geniet gratis toegang tot die

Voortrekkermonument. Kruger-vertellings by die replika van my sterfkamer in die Kruger-galery bied ernstige herinnering en lering. Die toneelstuk Kruger breek die pad oop (NP van Wyk Louw) neem jou terug na 1863, ’n tyd van onstuimige politiek en besluitvaardigheid, waar daar kragtig verklaar is: “Almal moet voor een wet buig.”

Statige Staatsbanket: Die Kruger-galery, ’n ruimte wat my nalatenskap eer, bied op dié dag ’n statige presidensiële middagmaal aan. Gaste kan egte boerekos, en ’n verskeidenheid tradisionele voor- en nageregte geniet. Die banket is semi-formeel en bied ’n gesellige, smaakvolle viering van ’n lewe wat van eenvoud in die veld na die hoogste amp van die Republiek gestyg het.

Die Dameskring bied die Tant Gezina Teetuin en Mark in die Liedjietuin aan – ’n waardige huldeblyk aan die vrou wat as steunpilaar my in alles ondersteun het. Vir dapper en avontuurlustige burgers is daar die Kruger-kluis, waar Die Erfenisstigting se Ontsnapkamer jou terugroep na 1902: ontrafel die leidrade en ontsluit die verborge geheime as jy die durf en waagmoed het.

Musiek is die siel van die fees. Die Kruger-konsert sluit feestelik af met Steve Hofmeyr as eregas. Vir diegene wat ’n eksklusiewe ervaring verlang, is die Kruger-kring ingestel: slegs 200 sitplekke voor die verhoog, met ’n verwelkomingsdrankie en ligte verversings.

Boordensvol pret vir die jong burgers

Die jongspan word met koninklike oorleg bedien: ’n kleurloop, skattejag, gesigverf, inkleurkompetisie, boeresport en Kruger-kiekies sal sorg vir jolyt en herinnering. Kinders geniet ook gratis toegang tot die Monument en word, soos dit ’n Republiek betaam, volwaardig deel van die fees gemaak.

Waardegerigte nalatenskap

“Ons wil hê dat gesinne nie net die dag kom beleef nie, maar dat hulle deel word van ’n diepgewortelde nalatenskap wat ná eeue in ons kollektiewe geheue voortleef,” sê Dawid Brand, presidensiële hoë kommissaris van korrespondensie en kommunikasie. “Hier kom jonk en oud saam om nie net terug te kyk nie, maar om te deel in die waardes waaraan Kruger gestalte gegee het, en te sien hoe ons dit vandag in ons gemeenskap kan voortbou.”

Die Presidensiële Feeskomitee is dit eens: Op 24 September hou ons ’n groot makietie waar burgers kan kuier, sing, lag en leer. Ons bring hulde aan ’n leier wat die moed gehad het om ’n jong Republiek te dra en die karakter om ’n volk se toekoms bo eie gemak te stel. Só word die dag ’n daad van erfenis: nie net ’n blik op die verlede nie, maar ’n bevestiging dat geloof, vryheid en diens vandag nog die Republiek se hartklop bly.

Belangrike kennisgewing: Presidensiële Partytjiepermit

Hiermee word die Partytjiepermit vir die Presidensiële verjaarsdagviering vasgestel op twintig rand (R20) per volwassene. Jong burgers word sonder koste toegelaat om aan die fees deel te neem. Alle burgers word aangemoedig om hul permit deur die amptelike kanaal tydig te verseker, want plek is beperk: https://vtm.org.za/kruger-200/

Gegee onder my hand Stephanus Johannes Paulus Kruger President van die Zuid-Afrikaansche Republiek Voortrekkermonument, Pretoria Datum van verrigtinge: 24 September 2025 (09:00–16:00)