Of jy nou ’n kleuter, laerskoolkind, ’n kind of volwassene met addisionele behoeftes, of ’n pensioenaris is, by die Voortrekkermonument se Pioniersentrum is leer deur ontdekking ’n sensoriese belewenis van kyk, voel, hoor en onthou.
Jonè Blaauw, ’n arbeidsterapeut van Dundee, verduidelik waarom daar soveel krag in multisensoriese leer is en hoe dié ervaring oud en jonk help om te leer, groei en selfvertroue te bou – ongeag ouderdom of uitdaging.
Leer met hart en hande
“Dit is veral in die laerskoolfase belangrik dat kinders nie net hoor en lees nie, maar ook sien, voel en doen, oftewel ervaringsleer, sê Blaauw.
By die Pioniersentrum leer kinders nie net met hul verstand nie, maar bowenal hul hande en harte. “Op hierdie ouderdom klim kinders die sensories-motoriese trappies van leer. Voor hulle abstrakte denke kan ontwikkel, moet hulle eers hul sintuie gebruik om die wêreld te verstaan. Dit is belangrik dat kinders nie ’n trappie mis nie.”
Die Pioniersentrum se programme sluit aan by die KABV-kurrikulum en fokus op temas soos minerale, vervoer, behuising en natuurlike hulpbronne. Kinders neem deel aan aktiwiteite soos broodbak op die pioniersmanier, sweepslaan en boeresport. Die aktiwiteite sluit by leeruitkomste aan, maar gebeur op ’n prettige, interaktiewe manier. Volgens Blaauw help multisensoriese leer kinders om inligting beter te onthou en vinniger te verstaan.
Klei en ketties
Tydens skoolvakansies bied die sentrum programme aan wat leerders van graad 1 tot 7 by ’n verskeidenheid aktiwiteite betrek. Elke oggend begin met die versorging van die plaaswerf se diere, ’n waardevolle les in omgee, roetine en verantwoordelikheid. Daarna volg fisieke aktiwiteite soos stap en kreatiewe sessies waarin kinders byvoorbeeld plaasdiere met sagte klei vorm of hul eie ketties maak.
“Klei is een van my gunstelingaktiwiteite in my praktyk,” sê Blaauw. “Dit help om klein vingerspiertjies te ontwikkel, wat die sleutel is tot ’n funksionele en leesbare handskrif.”
Hierdie aktiwiteite bevorder nie net fynmotoriese ontwikkeling nie, maar ook probleemoplossingsvaardighede en kreatiwiteit op ’n genotvolle manier. Vakansieprogramme maak ervarings soos dié vir gesinne toeganklik, en bied ’n sinvolle alternatief tot oormatige skermtyd.
Christa Jansen, ’n oudonderwyser met 23 jaar se ondervinding, is die bedryfshoof van die Monument se opvoedkundige aanbod. Sy weet hoe kinders leer, en integreer doelbewus aktiwiteite wat spel, beweging en denke insluit. Met ’n span ervare gidse wat die inhoud vir die jonger besoekers aanpas, ook ten opsigte van taalvoorkeur, word erfenis toeganklik én interessant gemaak.
Addisionele behoeftes só geakkommodeer
By die Pioniersentrum word besoekers met addisionele behoeftes met sorg en toewyding deur Izelle Ryan, koördineerder van gemeenskap- en skoleskakeling, verwelkom. Sy het ’n honneursgraad in sielkunde, asook hope praktiese ervaring op dié gebied.
Die Pioniersentrum streef daarna om die besoeker altyd eerste te stel en persone met beperkings of ander addisionele behoeftes te akkommodeer. ’n Uitstekende voorbeeld hiervan is ’n groep blinde besoekers wat die besonderse modeltreinuitstalling in die sentrum onlangs op ’n unieke manier kon beleef. Hulle het aan die treine en waens gevoel, die beheerpanele gebruik om die funksionering van die skakelaars te ervaar, en selfs die verskillende lengtes van die gras op die landskappe onderskei.
Willie Porter van die Noord-Transvaalse modeltreinklub en ’n groep geesdriftige modeltreinliefhebbers hou die wiele aan die rol en sorg dat elke treintjie, wa en stukkie landskap perfek op sy plek is.
Hierdie benadering maak dit moontlik dat geskiedenis en kultuur op ’n meer toeganklike manier beleef kan word, sodat alle besoekers die Pioniersentrum se ervarings kan geniet. Sulke geleenthede kan op versoek gereël word.
Belegging in pensioenariswelstand
Multisensoriese ervarings is nie net vir kinders waardevol nie, maar ook vir pensioenarisse. Aktiwiteite waar hulle kan sien, ruik, voel en proe – soos om na ’n demonstrasie te kyk, die varsgebakte brood te ruik en dan boonop te proe, of deur die pragtige tuine te wandel – stimuleer nie net die sintuie nie, maar dra ook by tot kognitiewe gesondheid en emosionele welstand.
Navorsing wys dat ervarings soos dié geheue aktiveer en sosiale betrokkenheid verhoog, wat belangrike beskermende faktore is teen kognitiewe agteruitgang. Daarbenewens toon studies dat multisensoriese stimulasie by ouer volwassenes ook geestelike skerpheid ondersteun. Só ’n praktiese, lewendige ervaring bring vreugde, maak herinneringe wakker en versterk die gevoel van gemeenskap.
Vir pensioenarisse bied die Pioniersentrum ’n betekenisvolle en toeganklike ervaring. Pensioenarisdag is ideaal vir groter groepe (minimum 10) teen R90 per persoon. Dit sluit in ’n begeleide toer deur die Voortrekkermonument, ’n interaktiewe erfeniservaring, ’n tradisionele broodbakdemonstrasie, en varsgebakte brood met plaasbotter, kaas en konfyt, bedien met koffie. Vir individue of kleiner groepies is Pensioenarisklubdag ideaal. Teen slegs R50 per persoon kan gaste elke Dinsdag van 09:00 tot 12:00 ’n oggend van kultuur, koffie, kameraadskap en gratis Monumenttoegang geniet.
Hierdie aanbieding sluit 20%-korting op boepensbroodjies en slaai of skyfies by die Skool op Wiele-restaurant in. Die Voortrekkermonument-terrein is boonop rolstoelvriendelik.
Jonè Blaauw is ’n geregistreerde arbeidsterapeut met haar eie praktyk. Sy is ook stigter van ’n dagskool en naskool wat fokus op alternatiewe inklusiewe onderwys vir almal se behoeftes, waar ’n multidissiplinêre span arbeidsterapeute, spraakterapeute en tutors saamwerk om elke kind se ontwikkeling te ondersteun.





