Dit was ’n oggend vol emosie, herinneringe en waardigheid toe die Bond van Savannah-veterane op Sondag 7 September by die Suid-Afrikaanse Weermag se Muur van Herinnering by die Voortrekkermonument ontbind is. Vyftig jaar ná Operasie Savannah het die “Laaste Taptoe” vir oulaas in die lentelug vir ’n besonderse groep soldate opgeklink.

Die Bond se wortels lê vyf dekades diep. In 1975 het jong dienspligtiges, burgermag-, vloot-, lugmag- en staandemaglede, asook medici die grens van die destydse Suidwes-Afrika (vandag Namibië) na Angola oorgesteek as deel van Operasie Savannah. Dit was die begin van 23 jaar se bosoorlog, ’n konflik waarby meer as 2 800 lede – meestal van hulle jong manne – betrokke was.

Dié Suid-Afrikaanse troepe moes Unita en die FNLA gaan help ná Angola se onafhanklikheidswording en die onttrekking van Portugal. Die magtige Rusland en Kuba is op Afrika-grond aangedurf – nie deur die Weste nie, maar Suid-Afrika. Sowat 35 000 vlugtende Portugese is uit Angola gehelp, Russiese uitbreiding ontmoedig, waterprojekte bewaak.

 

By die Savannah-gedenkteken het veterane, hul families, ander oudsoldate, asook verteenwoordigers van die Voortrekkermonument, die FAK en die Erfenisstigting (ES) bymekaargekom om die 41 manne te onthou wat nooit weer op vaderlandsbodem sou staan nie. Die geleentheid was nie net ’n administratiewe afsluiting nie, maar ’n emosionele terugblik op ’n stryd waarin talle jong mans hul lewens verloor het.

Met die onvermydelike verloop van tyd en die kleiner wordende getalle, is daar besluit om die Bond met waardigheid tot ’n einde te bring. Die meeste van die oorlewendes is reeds ouer as 70 jaar.

     

In ’n simboliese gebaar is die instandhouding van die gedenkteken aan die Voortrekkermonument toevertrou, terwyl die Bond se geliefde simbole – die kanondop wat as herdenkingsimbool dien en die groen Savannah-banier – voortaan in veilige bewaring by die Pro Patria Museum op die Voortrekkermonument-terrein gehuisves sal word. Operasie Savannah sal nou deel vorm van die Raad vir Militêre Veterane se groot gedenkdiens.

Vir baie was dit ’n moeilike dag, maar ook ’n dag van trots. Soos die vlag halfstok gestryk en die “Laaste Taptoe” weerklink het, was daar diep herinnering. Vir die manne wat dekades gelede skaars 18 jaar oud was, was veral die twee minute stilte ’n oomblik van oorverdowende onthou: dae vol gevaar in die Angolese bos, nagte van waghou, vriendskappe smee in bloed, sweet en verlies.

Leonie Marais, erfenishulpbronspesialis van die ES, het die seremonie soos volg opgesom: “Die gees van die Savannah-veterane leef voort in die nalatenskap van die land se militêre geskiedenis en in die harte van dié wat onthou. Ons salueer elkeen van julle en sal nie vergeet nie.”