Mediaverklaring

12 Desember 2023

Nie eers reën kan getroue ondersteuners weghou van “doenit lyfie doenit” nie!

 

Kom wind en stormweer, Bernice West-ondersteuners sál die reën trotseer om op hul gunstelingliedjie te dans. Toe die pop-sensasie se “Lyfie” begin, was die skare reeds op hul voete en reg om uit volle bors te sing.

In die weeklange feestelikhede by die Voortrekkermonument in die aanloop tot Geloftedag, tree verskeie kunstenaars op. Reeds het Elandré Schwartz die verhoog betree en Maandagaand het Bernice West die skare behoorlik aan die dans gehad.

“Ek het die konsert baie geniet. Die beste vir my was ‘Lyfie’. Sy sing uit haar hart uit en is vir my asemrowend.”

Só het Petrus Botha, konsertganger van Bernice se konsert, gesê.

West het in 2022 een van die hoofrolle vertolk in die Gelofte Blyspel, ’n moderne vertelling van die eeueoue verhaal wat ons 185 jaar na die Slag van Bloedrivier steeds onthou en aan ons kinders oordra. Dié blyspel het werklik nuwe trots in elke Afrikaner geskep wat vandag met breë skouers hul Afrikaneridentiteit kan bevestig.

Oudergewoonte is die Gelofte afgelê en bevestig in die Lewende Laer. DA Raadslid, Jaqui Uys is ’n direkte afstammeling van Voortrekkerleier Piet Uys. Haar seun, dra trots die tweede naam van sy voorsaat – Lafras.

Uys het die aandgodsdiens gelei en die Gelofte afgelê.

“Dit is vir my ’n ongelooflike voorreg om hier te wees en om hier tydens die Geloftefees te staan. Nie net as ’n Afrikaner nie, maar ook as ’n vrou … Hier as ‘n Afrikanernasie, vind ons onsself weer in ’n swaar atmosfeer, waar die wêreld ons laat glo het ons moet skaam wees vir ons bestaan … Dit is juis die Gelofte wat ons herinner aan wie ons as ’n volk is. As gevolg van hierdie Gelofte staan ons vanaand hier in die middel van ’n fees van die Afrikanerkultuur … waar ons ons trots bevind binne die toekoms van ’n land waarin ons bloed lê.”

In ’n nuwe tradisie om ook te onthou wat op die vooraand van die Slag van Bloedrivier tot die Voortrekkers se redding was, word drie lanterns aangesteek om eer te bring aan God wat die Voortrekkers gelei het deur sware tye en die Afrikaner se pad verlig het tot waar ons vandag is.

Elke nag word drie leiers uit die gemeenskap genader om hierdie lanterns aan te steek. So het genl. Lawrence Smith van ProPatria Museum, Paul van Deventer van Sol-Tech en mnr. Neels Driescher, skoolhoof van Hoërskool Pretoria-Noord die lampe aangesteek.

Hierdie roerende geleentheid vind elke aand om 19:00 plaas in die Lewende Laer by die Voortrekkermonument.

Die Voortrekkermonument nooi alle Afrikaners om die Geloftediens by die monument by te woon eerskomende Saterdag op 16 Desember. Toegang is gratis.

Herdenk jy nog die Gelofte?

Bevestig dit saam met 185 000 Afrikaners.

Klik hier: https://vtm.org.za/ek-is-een-van-185000/