Mediaverklaring

185 000 mense 185 jaar na die Gelofte afgelê is

13 Desember 2023

Meer as 208 Geloftefeeste word vanjaar regoor die wêreld gehou.

Die uitdaging is daar gestel, gaan 185 000 mense die belofte van die Gelofte in die spesiale jaar herbevestig?

“Vanjaar is ’n spesiale Geloftejaar, want dit is die 185ste gedenkjaar van die Groot Trek en die Gelofte,” sê dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument.

Die Voortrekkermonument het ’n unieke projek van stapel gestuur om 185 000 name in ’n tydkapsule te bewaar wat oor 15 jaar, met die 200-jaar-herdenking van die Slag van Bloedrivier, bekend gestel gaan word.

“Oor 15 of 30 jaar van nou af sal jy kan sien watter van jou familie die geskiedkundige geleentheid bygewoon het. Jy kan dan met trots terugkyk na jou herkoms,” sê Langner.

“Vir vryheid het ons alles opgeoffer.”

Dié woorde van Andries Pretorius, 185 jaar terug, was nog nooit so waar soos vandag nie.

“As dit nie vir 464 mans se dapperheid tydens die Slag van Bloedrivier was nie, sou ons nie 16 Desember elke jaar kon herdenk nie, so dis nou tyd om woord by daad te sit. Wees deel van ’n gesogte groep van 185 000 Afrikaners wat vanjaar hul nalatenskap sal laat,” sê Gerhard Pretorius, kommunikasiebestuurder van die Voortrekkermonument.

Mense wat nog getrou Geloftedag herdenk, word aangemoedig om hul name te registreer op die Voortrekkermonument se webwerf. Daar is twee skakels, een om jou gratis sangboekie vir Geloftedag by die monument af te laai, en die 185 000-skakel vir trotse Afrikaners wat nog Geloftedag vier.

Beide skakels sal gebruik word om die inhoud van die tydkapsule te bepaal.

“Ons wil kyk om hierdie jaar een van die grootste, geskiedkundigste Geloftedag by die Voortrekkermonument aan te bied. Ons gaan die lys van besoekers deel maak van die geskiedenisboeke deurdat ons dit in ons argiewe gaan bêre, sodat dit in die geskiedenis kan voortleef,” sê Henk Maree van die Voortrekkermonument.

Vanjaar open die hekke weer op 06:00 die oggend op die 16de en daar is drie ingange waarvan besoekers gebruik kan maak om die verkeer te reguleer. Geloftedag kan heeltemal gratis bygewoon word deur enige iemand!

As jy een van 185 000 is wat nog Geloftedag herdenk, bevestig jou naam hier: https://vtm.org.za/ek-is-een-van-185000/

Vir jou gratis sangboekie vir Geloftedag by die Voortrekkermonument, registreer hier: https://vtm.org.za/gelofteweek-2023/#registreer.