Mediaverklaring

30 November 2023

Nuwe fontein, markplein spruit uit by Voortrekkermonument

 

“Hier staan ons, ter ere van Sy naam.”

Dit is die woorde weerskante van die mini-senotaaf in die middel van die nuwe fontein voor die Voortrekkermonument.

Die Voortrekkermonument het ter herdenking aan die Groot Trek 185, die 85ste herdenking van die hoeksteenlegging in 1938 en die fakkelloop van Tafelberg tot Monumentkoppie, ’n unieke historiese fontein voor die monument opgerig.

Die ontwerp van die fontein sluit aan by die simboliese boodskap van die Voortrekkermonument. Die Voortrekkers se geloof en ideale van vryheid, selfstandigheid, opoffering en deursettingsvermoë en die Gelofte word beklemtoon.

“Net soos die Voortrekkers van ouds, staan ons vandag 185 jaar later hier met ons eie uitdagings en toekomsvisie. Met hierdie fontein wil ons nuwe geskiedenis maak en vir mense hoop gee wat aan die toekoms wil help bou,” sê Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument.

Rondom die fontein is die organisasiekultuur se waardes in Afrikaans en Engels tussen die klip ingemessel: Geloofsafhanklik, behoort, gemeenskap, identiteit, sorg, uitnemendheid, spanwerk, ondersteun, baanbreker, respek, diensbaar, dankbaar, vryheidsreis, eenvoud, verantwoordelik, deernis, gebrokenheid, detail tel, voorposdenke, gasvry, KAN-kultuur, geluk, nederig, durf, harde werk, getuienis, karakter.

Langner verduidelik verder dat by al die groot museums in Europa ’n markplein is waar mense saam kan kuier en hy het besef so iets kort by die Voortrekkermonument.

“Ons wil vir mense ’n kultuurtuiste wees waar hulle nie net geskiedenis en kultuurervaringe kan beleef nie, maar ook saam kan kuier en net kan wees. Daarom rig ons die markplein rondom die fontein op waar mense kultuurbier kan drink en roomys kan eet,” sê Langner.

Ter voorbereiding vir die Gelofteweek-feesvieringe is daar ook nou ’n tydelike feestent opgerig waar sangers soos Bernice West, Elandré, Liezel Pieters, Rikus Nel, Jay du Plessis en Juanita du Plessis gaan optree.

Die Geloftweek-feesvieringe begin Vrydag 8 Desember en duur tot 15 Desember. Die publiek kan die program op die Voortrekkermonument se webtuiste besigtig en ook hul kaartjies daar koop: https://vtm.org.za/gelofteweek-2023/.

As jy Geloftedag by die Voortrekkermonument gaan bywoon, onthou om te registreer vir jou gratis sangboekie en program: https://vtm.org.za/gelofteweek-2023/#registreer.

Waar vier jy en jou gesin vanjaar Geloftedag? Laat weet ons hier: https://vtm.org.za/gelofteweek-2023/#vtm185.