Tyd is ’n ontasbare ding. Dit beweeg vinnig en dit het die vermoë om herinneringe gou te vervaag. Vir Felicia Richardson, ’n talentvolle trou- en leefstylfotograaf van Centurion, het hierdie besef in 2020 diep ingesink toe Levi, haar seuntjie, nog net ’n paar maande oud was.
“Dit was tydens die Covid-19-inperking,” vertel sy. “In 2020 het ek besef hoe vinnig die tyd verbygaan en hoe vinnig my seuntjie grootword. Hy was toe omtrent agt maande oud. Familie en vriende het op foto’s staatgemaak om te sien hoe hy eers baba toe seuntjie word.
“Aangesien die wêreld in dié tyd tot stilstand gekom het, het ek nie die kans gehad om professionele foto’s te neem wat ons in ons huis kon ophang nie. Dit het my regtig aan die dink gesit en die fotografiesaadjie is daar en dan geplant. Ek het besef hoe kosbaar dit is om oomblikke vas te vang in digitale formaat waarna ’n mens vir altyd kan terugkyk en onthou hoe spesiaal daardie tyd was.”
Hierdie hunkering het haar fotografieloopbaan vlerke gegee. Sy het haar eerste kamera gekoop, nie net om herinneringe vir haar eie gesin te bewaar nie, maar ook om vir ander die kans te gee om hul spesiale oomblikke vas te vang. Dit was die begin van haar reis agter die lens – ’n reis wat diep deur moederskap en emosie gevorm word.
“Om ’n ma te wees, het my ’n ander perspektief op die lewe gegee,” sê Felicia. “Dit het my geleer hoe waardevol dit is om stories deur foto’s te vertel. Ek dink dikwels daaraan hoe my kinders eendag na hierdie foto’s gaan terugkyk; hoe hulle hul kinderjare deur beelde van liefde, lag en gesinsvreugde gaan herleef. En nie net hulle nie – miskien eendag ook my kleinkinders.”
Haar fotografiestyl weerspieël juis hierdie sentiment. Dis tydloos, emosioneel en intiem. Sy fokus nie net op die tegniese vernuf van fotografie nie, maar op die gevoel wat dit verewig.
Soos met enige kreatiewe loopbaan, moes Felicia haar eie pad vind. Haar grootste les? “Moet nooit jouself met ander vergelyk nie. Elke fotograaf se werk is uniek, en daar is ’n fotograaf wat by die spesifieke stylbehoeftes van elke kliënt pas. Ek het ook geleer dat jy nooit arriveer nie – jy gaan altyd jou vaardighede moet slyp en aanhou groei as fotograaf.”
Hierdie vasberadenheid het haar gelei om in 2025 haar onderneming uit te brei na troufotografie – ’n stap wat sy nie sommer vroeër sou waag nie. “Ek voel nou selfversekerd in my werk en weet ek kan ’n bruid se verwagtinge oortref,” sê sy.
Die Voortrekkermonument is trots om ’n kompetisie in samewerking met Felicia aan te bied. Die gelukkige wenner van dié kompetisie ontvang ’n fotosessie met Felicia as fotograaf! Die fotosessie vind op die ikoniese Voortrekkermonumentterrein plaasvind.
“Dit is ’n tuiste met ’n sterk storie; ’n simbool van generasies se deursettingsvermoë, moed, toekomsvisie en hoop. Die Monument en natuurreservaat is nie net visueel aangrypend nie, maar boordensvol betekenis,” sê Felicia. Volg hierdie skakel as jy die gelukkige wenner wil wees: https://vtm.org.za/liefdebydiemonument/
Met haar kamera in die hand kyk Felicia die toekoms in met groot drome. “Ek wil my as troufotograaf vestig en uiteindelik een van Gauteng se topfotograwe word. Dit gaan harde werk verg, maar ek weet dit is moontlik.”
En as daar iets is wat Felicia Richardson reeds bewys het, is dit dat sy weet hoe om ’n oomblik vas te vang – vir haarself, vir haar hartsmense én vir dié wat ’n oomblik in tyd vir ewig wil koester.