Mediaverklaring

10 Desember 2023

Omwenteling: die beste van Afrikaanse woordkuns

Sestien gedigte, agt liedjies en twee monoloë neem die kyker na waar hulle gedagtes wentel om die dieper dinge van die lewe.

“Omwenteling” is ’n uitstekende eenmanvertoning deur Johan Scholtz waar die voordrag ’n warboel van emosies by die kyker wek. Enige iemand met ’n aanvoeling vir letterkunde en poësie sal dié toneelstuk uit die diepte van hulle hart waardeer.

Hierdie toneelstuk is deel van die Kundramus-groep, wat die samekoms van kuns, drama en musiek verteenwoordig. Die toneelstuk is saamgestel om al drie hierdie elemente te bevat, wat dít uiters uniek en besonders maak.

“’n Klomp kunstenaars het saamgekom en gedink hoe kan ons ’n produksie skep waar kuns, drama en musiek verteenwoordig word. So is Omwenteling geskep,” sê Scholtz.

Scholtz hoop dat mense ’n boodskap van naasteliefde en verhoudinge saam met hulle huis toe neem.

“Daar is ’n God en dis waarom alles wentel. Ons wentel om God en mense wentel ook om mekaar. Ons verhoudinge met mense is wat die skepping betekenis gee.”

Die hele vertoning – van die beligting tot die musiek – word skitterend aangewend om die kyker rustig te maak en te laat dink. Die musiek het veral ’n groot fokus op die lirieke en dit word aangevul met die skrywer se eie gedagtes.

Die publiek het nog die hele week kans om “Omwenteling” saam met ander toneelstukke, as deel van die Gelofteweek-feesvieringe, by die Voortrekkermonument te kom kyk.

Kaartjies vir Gelofteweek kan op die Voortrekkermonumentterrein of aanlyn gekoop word. Sien die volledige program vir Gelofteweek op die Voortrekkermonument se webwerf: https://vtm.org.za/gelofteweek-2023/.

Op die 16de Desember maak die Voortrekkermonument reg om duisende mense vir Geloftedag te ontvang. Dié dag kan heeltemal gratis bygewoon word. Registreer jou plek hier om jou gratis sangboekie te kry: https://vtm.org.za/gelofteweek-2023/#registreer.

Is jy een van die 185 000 Afrikaners wat nog Geloftedag vier? Registreer jou plek hier: https://vtm.org.za/gelofteweek-2023/#vtm185.