Mediaverklaring

27 Oktober 2023

“Ons vir jou Suid-Afrika” – en vir die bokke!

Vanaand flits die woorde “Ons vir jou Suid-Afrika” nie net in morsekode by die Voortrekkermonument nie, maar vertoon die monument ook groen ter ondersteuning van die Springbokke wat Saterdagaand in die wêreldbeker rugby se eindstryd teen Nieu Seeland deelneem.

“By ons kultuurtuiste is trots een van ons kern waardes en die Voortrekkermonument is ook ’n simbool van hoop en daarom het ons besluit om in solidariteit die Springbokke te ondersteun waar hulle ’n hele land die naweek agter hulle het.”

So sê Gerhard Pretorius, kommunikasiehoof by die Voortrekkermonument.

Die Voortrekkermonument wil graag Afriforum en Afrison bedank vir die skenking van die kleurfilm wat bo-oor die ligte gaan om die monument groen te laat vertoon.

Die Voortrekkermonument is egter nie die enigste erfenis simbool wat die Springbokke ondersteun nie. Die Paul Kruger standbeeld op Kerkplein is vroeër die week ook in groen geklee om ondersteuning aan die bokke te wys.

Die kultuur en gees loop hierdie week hoog onder Suid-Afrikaners en almal is baie opgewonde dat Suid-Afrika teen Nieu Seeland meeding vir die eerste plek. Dit sal die vierde keer wees wat die Wereldbeker vir rugby aan Suid-Afrika toegeken word, indien ons die wedstryd teen Nieu Seeland wen.

Siener van Rensburg, figuur tydens die Anglo-Boereoorlog het glo die Springbokke se oorwinning die naweek voorspel en dié gerug word wyd op sosiale media versprei:  “En in die laaste Oorlog, wanneer die koue in die Noorde begin, die Hoenderveer verdor, die Saronsroos verwelk, sal die Varing se groei ook verydel onder die pote van die vlugvoetige hert, en sal jy in die land van Gallië vir die vierde keer ’n oorwinningskreet uiter wanneer jou naam ingegraveer word op die Beker van oorvloedige blydskap”.

“Die Voortrekkermonument staan bankvas agter die bokke om die trofee vir die vierde keer tot sy geregmatige plek in Suid-Afrika te bring,” sê Pretorius.

Jou vriendskap help ons om kultuur by die Voortrekkermonument te bevorder. Sluit aan: https://vtm.org.za/donasies/.