In ’n tyd waarin dit dikwels voel asof alles rondom ’n mens wankel, het standvastigheid ’n skaars kommoditeit geword. Tog is daar steeds individue vir wie hoop, ’n vrygewige hart en gewillige hande ’n lewensingesteldheid is.

Een só ’n man is Gawie Pienaar – ’n boer, leier, Christen en Afrikaner met ’n vurige passie vir sy volk. Dié Oos-Kapenaar het onlangs saam met die Afrikanerbond (AB) se lede in dié streek ’n reuseskenking vir die Voortrekkermonument se “Gee ons Krag”-veldtog gemaak.

“Enigiemand, waar jy jou ook al op aarde bevind, moet weet wat jou volk se verlede was,” sê Pienaar. “Dit vorm jou en laat jou besef watter plek jy in jou land én die geskiedenis moet volstaan.”

Pienaar se eie familiegeskiedenis getuig van groot opoffering en dapperheid. Albei sy oupas het in die Anglo-Boereoorlog geveg en as krygsgevangenes na Ceylon gestuur. Sy ouma het drie jaar lank gevlug om nie in ’n konsentrasiekamp te beland nie – ’n dapperheid wat waarskynlik die lewe van haar kind gered het. “Sy het geveg teen die dood, teen die vyand en vír haar land. Dit het my geleer dat ek ook moet veg en opoffer,” sê hy.

Hierdie verhale het Pienaar se vlam vir diensbaarheid aangevuur. En hy doen dit al sy hele lewe lank. “Ek wens ek kon alles vertel wat ons familie deurgemaak het,” vertel hy. “My pa moes selfs op skool ’n bordjie om sy nek dra waarop staan: ‘I am a donkey, because I speak Afrikaans’.”

“Ek het altyd probeer om iets goed vir my medemens, my mede-Afrikaner, te doen.” En dit het hy inderdaad deur hierdie skenking aan die Monument gedoen. Die lang lys van organisasies waarin hy onbaatsugtig gedien het – van die Rapportryers tot AgriSA – is indrukwekkend, maar vir Pienaar was dit bloot ’n roeping.

Hy is op 16 Desember 1938 gedoop – ’n datum propvol betekenis. “Ons dominee het besluit om al die seuntjies wat op daardie dag gedoop is, ’n Voortrekkernaam te gee. Ek was natuurlik baie trots op my naam: Retief.”

Die besluit om die Voortrekkermonument te midde van ’n enorme kragkrisis te help om nader aan kragselfstandigheid te kom, was ’n natuurlike een. “My Afrikanerhart het my genoop,” sê hy. “Ek het my medebroers oor die hele Oos-Kaap gekontak en oorreed dat ons die Monument moet help. Die lede van die AB in die Oos-Kaap moet die dank kry. Hulle het oor die jare die geld bymekaargemaak en belê. Toe die tyd reg was, het ek hul toestemming gevra om dit te onttrek en die skenking te maak.”

Pienaar se hoop vir die toekoms lê in die jeug. “Om die jeug te motiveer om altyd die Afrikaner se belange te bevorder, is ’n lewenstaak vir elke Afrikanerouer. Die Voortrekkermonument en die personeel doen wonderlike werk. My hart is by julle,” sê Pienaar.

Volgens Dawid Brand, bedryfshoof: beeld en groei van die Voortrekkermonument, is Pienaar en die AB se bydrae van onskatbare waarde. “Deur die geskiedenis is oor en oor bewys dat dié onblusbare selfdoeningesteldheid grense kan verskuif. Die eienaarskap van ons kulturele erfenis is immers in elkeen van ons se hande. Elke rand wat vir die ‘Gee ons krag’-projek bygedra word, is een tree nader om ons droom van ’n sonkragstelsel te bewaarheid, om toekomsbestand te word.

“Ons kan nie genoeg dankie sê vir die toekomsbouers wat reeds bykans R450 000 bygedra het nie. Elke bydrae skep hoop en maak ons opnuut opgewonde oor die stabiliseringsfase wat die Monument betree om ons Kultuurtuiste vir die geslagte wat kom, te bewaar en uit te bou,” sê Brand.