Goeiedag

Baie dankie dat u vanjaar se Geloftediens by die Voortrekkermonument gaan bywoon. Ons sien daarna uit om die dag saam met u te geniet.  

Hiermee enkele reëlings:

  • Die hoofhek sowel as die Noord-hek in Pretoria Main Rd sal vanaf 06:00 oop wees.
  • Die voorsang begin om 08:00, waarna die diens om 09:00 begin.
  • Omdat u Geloftedag bywoon, is daar geen toegangsgelde betaalbaar nie. U sal wel ’n parkeerkaartjie by die ingang ontvang, maar ons sal dit vir u gratis stempel wanneer u by die Covid-tafel registreer. Let wel dat geen voertuig die terrein mag verlaat sonder dat die parkeerkaartjie gestempel is nie.
  • Daar sal geleentheid gebied word om kollekte op te neem of u kan gebruik maak van die QR-kodes op die terrein om via Snapscan ’n donasie te maak. Alle fondse word aan die Voortrekkermonument geskenk om te verseker dat ons kultuurtuiste met trots in die toekoms bevorder kan word.
  • Die diens sal by die Amfiteater plaasvind.
  • Ons versoek vriendelik dat u ’n gazebo of sambreel sal saambring vir beskerming teen die son of sou dit reën.
  • Daar is ruim sitplek by die Amfiteater, maar bring gerus ’n kombers of kampstoel saam.
  • Skool op Wiele Koffiehuis sal na die diens oop wees vir heerlike kappetjieno’s en iets om te eet.
  • Daar is nie vanjaar gedrukte programme en sangboekies beskikbaar nie, maar u is welkom om die e-boekie vooraf op u selfoon af te laai of om die boekie by die huis te druk.

Baie dankie vir u lojale ondersteuning teenoor die Voortrekkermonument.