Mediaverklaring

4 Oktober 2023

Sarel Cilliers op sterfdag in Senotaafsaal gehuldig

Op 4 Oktober 1871 sterf Charl (Sarel) Arnoldus Cilliers op sy plaas, Doornkloof naby Lindley in die Vrystaat. 152 jaar later op 4 Oktober is Cilliers by sy kanon Grietjie in die Senotaafsaal gehuldig deur drie van sy nasate en ’n klein groep mense.

Chrisna Nel, Marnus Nel en Jaco Cilliers is afstammelinge van Sarel Cilliers. Die Gelofte is by kanon Grietjie afgelê waarna elke nasaat blomme voor Grietjie neergelê het.

“Dit is so ’n groot voorreg om vandag hier te kan wees om ’n voorvader te vereer. Nie almal kry die kans om hier uit te kom nie, nie eers direkte afstammelinge van Sarel Cilliers nie,” sê Chrisna Nel.

“Sarel Cilliers was ’n merkwaardige man en ’n mens kan baie by hom leer. Hy was ’n kerkman en sy geloof het die Voortrekkers deur baie swaar tye gedra,” sê Cilliers.

“Ek wonder wat Sarel Cilliers sou sê as hy kon sien hoe wyd sy nasate hom steeds vereer. Ek dink hy sou baie trots wees, want ons is baie trots op die Gelofte en wat dit vandag nog vir ons beteken,” sê Marnus Nel.

Die Gelofte is vir die eerste keer op die 9de Desember deur Sarel Cilliers op Kanon Grietjie voorgehou en daarna elke aand tot en met die 15de Desember. Kanon Grietjie kan vandag in die Senotaafsaal by die Voortrekkermonument besigtig word. Dit is juis ook oor hierdie rede dat dit so gepas is om Sarel Cilliers by sy kanon Grietjie te vereer.

Sarel Cilliers is ‘n erkende geestelike leier gewees wat die Kolonie so vroeg as 1836 verlaat het. Later het hy by die geselskap van Hendrik Potgieter en andere aangesluit en saam met hulle getrek. Cilliers word beskou as die vader van die Gelofte gedurende Desember 1838, maar hy was ook soveel meer as dit.

Hy was een van die groot geestelike leiers van die Groot Trek. By Vegkop in Oktober 1836, en later ook by die Bloukransmoorde, Italeni en Bloedrivier het hy getoon dat hy wel deeglik sy man gedurende die stryd kon staan.

Die Voortrekkermonument wil ons erfenis bewaar en toeganklik maak vir ons nageslag. Word ’n vriend van die Voortrekkermonument en ondersteun ons: https://vtm.org.za/ondersteun/