Die Senotaafsaal in die Voortrekkermonument spog dié week van hoek tot kant met seëluitstallings. Die Afrikaanse Filatelievereniging van Pretoria (AFP), ’n organisasie wat ’n passie het vir die versameling en studie van posseëls en posverwante items, het hierdie indrukwekkende lokaal gekies vir ’n seëluitstalling wat Afrikaans se 100ste bestaansjaar as amptelike landstaal vier.
Seëlgeesdriftiges van reg oor Suid-Afrika gaan met 54 uitstallings in 130 rame hul stokperdjie vanaf 8 tot 11 Mei ten toon stel. Die fokus van die uitstalling wat in samewerking met die Voortrekkermonument en die FAK aangebied word, is op Afrikaans in die filatelie oor die laaste 100 jaar, maar sluit ook ander onderwerpe in.
Volgens dr. Louwrence Erasmus, voorsitter van die AFP, is daar in die Afrikaans 100-uitstalling altesaam vyftien verskillende klasse waarbinne filatelie bestudeer kan word. In dertien van die klasse kan uitstallers mededingend deelneem.
“Die AFP is in 1951 gestig onder die naam Afrikaanse Philatelistiese Vereniging van Pretoria (APVP),” sê hy. “Ons het tans 34 lede waarvan 25 geaffilieerde lede van die Filateliese Federasie van Suid-Afrika (PFSA) is. Die PFSA is die oorkoepelende liggaam wat georganiseerde filatelie in Suid-Afrika verteenwoordig en is ’n lid van die Fédération Internationale de Philatélie (FIP). Die FIP koördineer georganiseerde filatelie op internasionale vlak.”
Selfs Engelse uitstallers vier taalfees
Erasmus is baie opgewonde oor die Afrikaans 100-uitstalling. “Meer as die helfde van die uitstallings handel oor Afrikaans en die oorsprong van dié taal, en uitstallers gebruik verskeie invalshoeke om hierdie taalverhaal uit te beeld. Ons het selfs ’n paar Engelse uitstallers wat deelneem.
“Ons het ’n paar inskrywings van die Pretoria Philatelic Society, die Engelse seëlklub in Pretoria, en die Royal Philatelic Society of Cape Town het drie inskrywings in Afrikaans ingestuur. Dit is verblydend dat selfs Engelse versamelaars dié Afrikaanse mylpaal ondersteun,” sê hy.
Daar is ook inskrywings uit Pietermaritzburg, Mosselbaai, Kings William’s Town en Sasolburg, en talle van die uitstallers het self die lang pad aangedurf vir die voorreg om in die Monument uit te stal.
Nuwe geslag seëlliefhebbers
Om die versameling van seëls by kinders te bevorder, gaan die AFP met die uitstalling ’n nuwe aanslag volg. “Ons het gevind dat kinders ook baie in seëls belangstel, maar dat hulle eerder ’n storie met hulle seëls wil vertel en nie net bloot seëls bymekaarmaak omdat dit daar is nie,” sê Erasmus.
“Twee laerskoolkinders gaan onder meer met húl versamelings spog. Die een is mal oor dinosaurusse en vertel die storie van dinosaurusse met die seëls wat hy oor hierdie prehistoriese diere versamel het. Die ander jong versamelaar het twee inskrywings oor katte, wat met kreatiewe maniere die storie van die katte in haar uitstalling vertel.”
Daar sal ook uitstallings oor die Grensoorlog wees, wat ook ’n groot trekpleister vir jong seuns is wat nie dié historiese gebeure op skool geleer het nie.
Die beoordeling van die uitstallers se spogversamelings vind op Donderdag 8 Mei plaas. Die resultate word op die uitstallers se rame en naamkaartjies aangebring, sodat besoekers kan sien wie koning gekraai het.
Maak gerus ’n draai in die Senotaafsaal en ervaar die ryke nalatenskap van Afrikaans in iets besonders soos die versameling van seëls. Die uitstalling is van 8 tot 11 Mei vanaf 09:00 soggens oop vir die publiek.