Genesis K9 is aktief besig om die Voortrekkermonument by te staan om die veiligheid by ons baken van hoop op te skerp.

Die maatskappy is ’n geregistreerde hondeopleidingsentrum wat nasionaal en internasionaal instansies help om honde vir sekuriteitsdoeleindes op te lei.

Vandag het dié groep weer die Voortrekkermonument besoek om met hul eie honde te oefen en ook die Voortrekkermonument se opgeleide honde se “tande weer te slyp”.

“Vandag gaan alles oor opskerping en inoefening,” sê Christene Voorendyk. “Ons honde moet by verskillende omgewings leer en oefen, soos winkelsentrums, parkeerterreine en vandag ook die Voortrekkermonument.”

Genesis K9 het verlede jaar drie honde aan die Voortrekkermonument geskenk en ook help oplei. Die Voortrekkermonument se honde is volledig opgelei as sekuriteitshonde en skerp vandag net weer hul vaardighede op.

Thys Kleyn, direkteur van Genesis K9, sê dit neem baie tyd om honde op te lei en dat die standaard konstant gehou moet word.

“Ons honde verrig verskeie rolle. Hulle kan byt, spore volg en dwelms uitsnuffel, maar die belangrikste rol wat hulle verrig, is sigbaarheid,” sê Kleyn.

Hoekom hulle die Voortrekkermonument gebruik om die honde op te lei, sê Thys dis gedeeltelik om die monument by te staan en op hoogte te bly met die sekuriteitshonde.

“Ons het ’n sekuriteitsbehoefte gesien by die monument en wou graag betrokke raak. Nou as ons met ons honde hier kom oefen, is dit ook ’n goeie geleentheid om die monument se honde weer op te skerp en te sien hoe dit met hulle gaan,” sê Kleyn.

Danie Dreyer, sekuriteitshoof van die Voortrekkermonument, sê hy is dankbaar vir die blootstelling wat die honde kry. “Dit is belangrik dat die honde in oefening bly. Dit is ook vir die Voortrekkermonument ’n voorreg om ons terrein aan Gesis te kan te bied om meer blootstelling vir hulle honde te gee.”

Genesis K9 is ook verantwoordelik vir die opleiding van die honde in Sanparke soos die Krugerwildtuin waar die honde opgelei word om renosterstropers uit te snuffel en spore te volg.

Die Voortrekkermonument is dankbaar om sy terrein te bied vir Genesis K9 en hulle hulp met die honde. Jou vriendskap kan die Voortrekkermonument bystaan in soortgelyke aksies: www.vtm.org.za\donasies\.