“Ons eer die nagedagtenis van ALLE soldate wat hul lewens in diens van ons land gegee het. Ons eer die opofferings wat hulle gemaak het asook die lewens wat hulle aangeraak het,” sê Chris Pohl, voorsitter van die Valskerm Veterane Organisasie (PVO).

Op 25 Februarie 2024 het sowat 200 veterane en PVO by die SA Weermag Muur van Herinnering by die Voortrekkermonument byeengekom om hulle makkers te gedenk wat tydens die Grensoorlog gesneuwel het.

Volgens Chris Pohl het die valskermsoldate, of parabats soos hulle in die volksmond bekendstaan, hierdie dag toegewy en opgedra ter ere van hulle dapper makkers wat in konfliksituasies die hoogste prys betaal het.

“Die parabats het ’n kritiese rol in die verdediging van Suid Afrika vervul en het ’n reusebydrae gelewer tot die stabiliteit en sekerheid van Suid-Afrika,” sê Pohl.

Die Voortrekkermonument stel dikwels sy deure oop om vir veterane en lede van die weermag die geleentheid te gee om die muur van herinnering te besoek en te herdenk. Dié muur is reg langs die Troostuin en saam skep dit ’n atmosfeer van onthou en eerbied.

Pohl beskou geleenthede soos hierdie een as ’n plig teenoor die jong mans wat tydens die oorlog gesterf het. “Baie was opgeroep om diensplig te gaan verrig, Almal het nie teruggekom huis toe nie. Vir ons wat wél teruggekeer het, is dit nou ons plig om ons makkers te onthou wat die hoogste prys betaal het.”