Die Voortrekkermonument (VTM) het die afgelope naweek (13 Julie 2024) weer gasheer gespeel vir die Leon Bezuidenhout Springbok Vasbyt-wedloop.

Joep Joubert, voorsitter van die VTM-draf en stapklub, sê die wedloop is ’n besonderse inspirerende byeenkoms omdat die organiseerders elke jaar hulde bring aan ’n Suid-Afrikaanse held, hetsy dit op sportvlak of elders anders is.

“615 drawwers en stappers het vanjaar weer vroegoggend bymekaar gekom vir die jaarlikse Springbok Vasbyt. Elke jaar bring ons hulde aan ons land se helde en vanjaar was die wedloop opgedra aan Arthur Piercy, voormalige SA-Lugmagvlieënier,” sê Joubert.

“Dit was ’n absolute voorreg om hom ook persoonlik hier te kon hê om sy verhaal te vertel en na die wedloop medaljes uit te deel.”

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die VTM, het self vanjaar die byeenkoms bygewoon en sê dit was vir hom net so roerend om te sien hoe Piercy se storie oud en jonk inspireer.

“Ek was vanjaar gelukkig genoeg om die Springbok Vasbyt by te woon en was werklik bevoorreg om Arthur Piercy, aan wie vanjaar se wedloop opgedra is, te kon ontmoet,” sê Langner.

“Dit was ’n groot en nederige voorreg om vanoggend sy hand te kon skud. Woorde droog op om te sien hoe hy stil vanuit sy rolstoel kyk na elkeen wat verby hom stap of draf, elke tree ’n saluut aan die dapper soldaat,” sê Langner.

Lees hiér meer oor Piercy: https://www.facebook.com/Voortrekkermonument/posts/pfbid02FWkBmi6pPDt5f7fcNG1rTiPbZmPntctxBqMFMZ9YsndPVyKfafrf3sShNgt19622l

Dié gewilde padwedloop is vanjaar vir die 18de keer deur die Voortrekkermonument Draf- en Stapklub in samewerking met AfriForum sport, Athletics Gauteng North, Discovery Vitality en die Voortrekkermonument aangebied.

Joubert sê vanjaar se baan was weer ’n lekker uitdaging vir elke deelnemer wat op die historiese terrein hul staal kon wys.

“Die roete(s) word elke jaar spesiaal uitgewerk om lekker uitdagend te wees, maar wat hierdie wedloop baie spesiaal maak, is dat elke roete, die 5-, 10- en 21-kilometer pretloop hardlopers op ’n historiese reis neem, verby ikoniese landmerke soos Fort Schanskop, die Weermag-gedenkmuur en natuurlik, teen die einde rondom die monument. 70% van die roete loop ook nie op die teerpad nie, wat die wedloop besonders uniek maak.”

Na ’n paar uur se draf is die algehele wenners aangekondig:

10 kilometer (Mans):

  1. Tshepo Nchabeleng – 00:41:42
  2. Philip Bester – 00:45:43
  3. Kagiso Tsotetsi – 00:46:31

10 kilometer (Vroue):

  1. Corné Prinsloo – 00:53:00
  2. Marilise Bouwer – 00:56:56
  3. Johanna Joubert – 00:58:27

21 kilometer (Mans):

  1. Henk Sweers – 01:44:40
  2. Francois Nel – 01: 47:11
  3. Hein Botha – 01:47:20

21 kilometer (Vroue)

  1. Brenna Sutherland – 01:57:59
  2. Marcelle Coetzee – 01:59:13
  3. Tracy-Lee Letcher – 02:06:11